
Tydskrifte
Die afgelope jaar was maar taai vir Suid-Afrikaanse tydskrifte. Moeilike ekonomiese toestande het gelei tot die sluiting van sekere titels.
Die tydskrifafdeling het besparings ingevoer deur papiervoorraad te hersien, strenger beheer oor boekgroottes en drukbestellings toe te pas, asook deur personeel te verminder. Duurder papier-
en inkpryse het die winsmarges vernou
en ’n deel van hierdie besparings uitgewis.
Paarl Media
Op 17 April 2009 het ’n vernietigende brand die Paarl Print-aanleg in puin gelê en tot die dood van 13 mense gelei. Nog vier is ernstig beseer. Ons diepste meegevoel gaan uit na diegene wat geliefdes verloor het en ons dink aan diegene wat beserings en trauma gely het. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek. Dit volg nadat ’n brand by Paarl Gravure in Februarie een van die aanleg se Cerutti-drukperse verwoes het.
Ondanks hierdie voorvalle het die groep se drukkerye bevredigend vertoon. Marges was wel onder druk.
In 2008 het Media24 sy koerantdrukkerye aan Paarl Media verkoop. Hierdie aanlegte is onder Paarl Coldset geïnkorporeer en sal nou ’n meer kommersiële fokus hê om derdeparty-inkomste te versterk.
Via Afrika
Die boekuitgewers het ’n bevredigende jaar beleef, met goeie resultate van jong ondernemings in Zambië en Namibië. Smile Education met sy “leer speel-speel”-produkte en die IDEM-onderneming, wat skole van onderwys- en onderrigsteunmateriaal voorsien, het kragte saamgesnoer as idem smile en groei getoon. ’n Verkryging, die onderneming vir basiese onderrig vir volwassenes Stimela, het verwagtings oortref.
Via Afrika se fokus is op die ontwikkeling van interaktiewe opvoedingsprodukte en die verspreiding van mobiele en digitale inhoud.
Volhoubaarheid en korporatiewe maatskaplike belegging
Benewens sy bemagtigingsinisiatief, Welkom Yizani, is Media24 verbind tot die opheffing van die mense in die gemeenskappe waarin
hy werk. Hy erken sy impak op die omgewing, en fokus op die doeltreffende bestuur van beroepsgesondheid- en veiligheidsrisiko’s, asook die ontwikkeling van werknemers.
Media24 het sy eerste amptelike telkaart
in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse departement van handel en nywerheid se Goeie Praktykkodes verskaf. ’n Onafhanklike verifiëringsagentskap is gebruik.
Media24 is trots op sy volpunte vir beide
die ondernemings- en sosio-ekonomiese ontwikkelingskomponente. Meer besonderhede oor die maatskappy se maatskaplike beleggingsinisiatiewe is beskikbaar op die webwerf (www.media24.co.za). |