Soek
 
 

 

Korporatiewe bestuur an volhoubaarheid

VERHOUDINGE MET AANDEELHOUERS

Die maatskappy bly in gesprek met sy belangrikste finansiële gehore, veral institusionele aandeelhouers en ontleders. Die afdeling vir beleggersverhoudinge bestuur interaksie met hierdie gehore en voorleggings vind plaas nadat die tussen-tydse en eindresultate gepubliseer is. Hierdie funksie is verder versterk met die aanstelling van mev Meloy Horn as hoof van beleggersverhoudinge.

Die maatskappy se webwerf (www.naspers.com) verskaf die jongste en historiese finansiële en ander inligting, insluitend finansiële verslae. Die direksie moedig aandeelhouers aan om sy algemene jaarvergadering, waarvan die kennisgewing in hierdie jaarverslag vervat is, by te woon. Daar sal geleentheid wees om vrae aan die direksie, bestuur en die voorsitters van die onderskeie direksie-subkomitees te stel.

SAKE-ETIEK

Ter ondersteuning van die vereistes van King II het die maatskappy sy sake-etiekbestuurs-proses binne die groep geformaliseer. Die kode vir sake-etiek vir die groep voldoen aan toepaslike regulatoriese vereistes.

Hierdie kode geld vir alle direkteure en werknemers in die groep. Om toe te sien dat maatskappye in die groep toepaslike prosesse vestig en ’n ondersteunende beleid en prosedures instel, is ’n voortdurende proses. ’n Belangrike fokus is spesifieke beleid en prosedures wat groot etiese risiko’s dek, soos die bestuur van belangebotsings en die aanvaarding van onvanpaste geskenke. Doeltreffende kommunikasie van en opleiding oor die kode vir sake-etiek is ook ’n prioriteit.

Die mensehulpbronnekomitee is die algehele voog van die sake-etiekbestuursproses en sien toe dat die groep se kode vir sake-etiek nagekom word. Die dissiplinêre kodes en prosedures van die verskillende maatskappye in die groep word gebruik om voldoening te verseker aan die beleid en praktyke wat die oorkoepelende kode vir sake-etiek ondersteun. Onetiese gedrag deur senior personeellede, asook die wyse waarop die maatskappy se dissiplinêre kode ten opsigte hiervan toegepas is, word by die mensehulpbronnekomitee aangemeld.

Naspers is daartoe verbind om sy sake met integriteit te bedryf. Hierdie verbintenis is vervat in ons integriteitsketting, wat uitdrukking gee aan die leidende beginsels. Die groep verwag van alle direkteure en werknemers om sy verbintenis tot sake-etiek en regsnorme
te deel.

VERGOEDING

Die vergoedingsbeleid en die uitvoering daarvan is die verantwoordelikheid van die mense-hulpbronnekomitee.

Nie-uitvoerende direkteure kry jaarlikse vergoeding in plaas van ’n fooi per vergadering. Dit is ter erkenning van die deurlopende verantwoordelikheid van direkteure vir die doeltreffende beheer van die maatskappy. Hierdie vergoeding word aangevul deur vergoeding vir dienste in die subkomitees van die direksie en filiaaldireksies. Die voorsitter van die direksie, asook die voorsitters van die subkomitees, ontvang ’n premie.

Die betrokke vergoeding word jaarliks hersien, met verwysing na mededingers en maatskappye wat ’n dubbelnotering op die JSE en ’n oorsese sekuriteitebeurs het. Onafhanklike advies word ingewin om direkteure se vergoeding te hersien. Hierdie vergoeding is nie aan die maatskappy se aandeelprys of prestasie gekoppel nie. Nie-uitvoerende direkteure kom nie in aanmerking vir deelname aan die groep se aandeelgebaseerde aansporingskemas nie. Die direksie beveel jaarliks die vergoeding
van nie-uitvoerende direkteure aan vir goedkeuring deur aandeelhouers.

Wat die vergoeding van uitvoerende hoofde betref, poog die groep om bevoegde en toegewyde leiers te lok, te motiveer en te behou in sy strewe om volhoubare aandeelhouerswaarde te skep. Ons poog om topprestasie te erken en entrepreneurs te kry om die waarde van die groep verder uit te bou. Die vergoedingsfilosofie vir uitvoerende hoofde probeer hierdie doelstelling bereik. Die beleid fokus dus nie primêr op die gewaarborgde jaarlikse vergoedingspakket nie, maar op individuele aansporingsplanne wat aan die skepping van aandeelhouerswaarde gekoppel is.

Vergoedingspakkette word gemonitor en met gerapporteerde jaarlikse syfers vir vergelykbare poste vergelyk om te verseker dat dit billik en versoenbaar is. Die meeste uitvoerende hoofde het ’n jaarlikse bonusskema, mits strategiese en bedryfsdoelwitte oortref word. As ’n langtermyn-aansporing neem uitvoerende hoofde tipies deel aan aandeelgebaseerde aansporingskemas ten opsigte van Naspers N-aandele en, waar toepaslik, aandele of aandeelwaarderingsregte in hul onderskeie filiale. Hierdie toekennings vestig gewoonlik oor ’n tydperk van vier of vyf jaar.

Die vergoeding vir nie-uitvoerende direkteure vir die afgelope jaar, asook die vergoedingspakkette van uitvoerende direkteure, word op hier. van hierdie jaarverslag vermeld.

VOLHOUBARE ONTWIKKELING

Naspers het ’n volhoubaarheidsverslag opgestel in ooreenstemming met die Global Reporting Initiative (GRI) – toepassingsvlak C. Die dokument is op ons webwerf (www.naspers.com) beskikbaar.

Naspers is ’n uiteenlopende groep met internasionale werksaamhede regoor die wêreld, waarvan sommige binne die bestuursbeheer van die groep val en in die afdeling, Oorsig van Werksaamhede, in hierdie jaarverslag beskryf word.

Alle ondernemings onder die operasionele beheer van Naspers of sy beduidende filiale
in Suid-Afrika is by die GRI-verslag ingesluit. ’n Strategie word tans ontwikkel om die beduidende internasionale werksaamhede voortaan by die bestek van die GRI-verslagdoening in te sluit.

Naspers se werksaamhede is duidelik afgebaken in elektroniese (internet, betaaltelevisie, tegnologie) en drukmediaplatforms, en het risikoprofiele wat duidelik van mekaar onderskei kan word. Elke onderneming se benadering tot die bestuur van beroepsgesondheid en -veiligheid, en omgewingsrisiko’s is dus anders. MultiChoice Suid-Afrika en Media24 het afsonderlike GRI-verslae opgestel, wat op hul webwerwe by onderskeidelik www.multichoice.co.za en www.media24.com, beskikbaar is.

Die werkplek

Die vestiging van ’n gesonde, veilige werkplek by administratiewe en produksiefasiliteite is ’n prioriteit vir die groep. Waar nodig en in ooreenstemming met plaaslike vereistes, is gesondheids- en veiligheidskomitees – met toegewese persone wat opleiding ontvang om hul vaardighede te verbeter – gestig om nakoming van die toepaslike regulasies te verseker. Toepaslike mediese nood- en rampherstelplanne is vir die bedryfseenhede ontwikkel.

Gereelde organisasie-, gesondheids- en veiligheidsrisikobeheer-oudits word deur bedryfseenhede uitgevoer en verbeterings word aangebring, indien nodig.

Op 7 Februarie 2009 is die Cerutti-drukpers by die Paarl Gravure-aanleg in Kaapstad in ’n brand verwoes. Niemand is in die voorval beseer nie. Dit is deur die groep se korttermyn-
versekeringsprogram gedek.

Op 17 April 2009 het ’n verwoestende brand die Paarl Print-aanleg in Paarl in puin gelê en tot die dood van 13 mense gelei. Nog vier mense is ernstig beseer. Terwyl forensiese brandondersoeke deurentyd aan die gang is om die oorsaak van die brand te bepaal, is Paarl Print besig om sy sakekontinuïteitsplan te implementeer. Dit was ’n tragiese voorval in die groep se geskiedenis.

Welstand

Verskeie welstandprogramme word deur sommige van die groep se filiale bedryf in ’n voorkomende benadering tot die gesondheid van werknemers. Dit sluit programme in om werknemers te help om op te hou rook. Ons drywers en personeel wat aan geraas blootgestel is, ondergaan gereeld mediese, oog- en gehoortoetse. Professionele en onafhanklike psigososiale ondersteuning word verleen aan personeel in baie van die groep se ondernemings.

MIV/vigs

Naspers is deeglik bewus van die MIV/vigs-pandemie in Afrika en die maatskaplike en ekonomiese implikasies van die siekte. Omvattende programme behels:
  • inligtings- en bewusmakingsveldtogte
  • vrywillige gratis toetsing
  • gratis berading, en
  • omvattende mediese behandelingsprogramme.


Omgewing

Die direksie van Media24 Beherend het in die loop van die jaar ’n nuwe subkomitee op die been gebring om beroepsgesondheid en -veiligheid, en omgewingsaspekte van die Media24-groep te monitor. Vordering is gemaak om die koolstofvoetspoor van die Suid-Afrikaanse werksaamhede vas te stel. Spesialiskonsultante wat onlangs aangestel is, is besig met die evaluering.

Verbintenis tot bemagtiging

Naspers ondersteun die strewe om voorheen benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika se hoofstroomekonomie te integreer.

Die Welkom-aandeleskema, wat in 1999 van stapel gestuur is, het in die 2007- finansiële jaar gesluit en elke R1 000 wat belê is, het ’n opbrengs van R31 000 gelewer. Die Totaale bedrag wat aan SEB (swart ekonomiese bemagting)-deelnemers uitbetaal is, het R235 miljoen beloop.

Media24 het met welslae die breedgebaseerde SEB-skema Welkom Yizani afgesluit. Voortspruitend uit hierdie aandele-aanbod besit ongeveer 100 000 swart persone en groepe nou ’n onregstreekse belang in Media24 Beperk.

MultiChoice Suid-Afrika het twee suksesvolle bemagtigingstransaksies, Phuthuma Nathi en Phuthuma Nathi 2, afgehandel. Hierdie transaksies is saamgestel om werklik breed gebaseer te wees. Sowat 120 000 swart persone en groepe besit nou ’n onregstreekse belang in MultiChoice Suid-Afrika Beherend (Eiendoms) Beperk.

Personeeldeelname en -ontwikkeling

Ons erken dat diversiteit noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van ons sake.

Ons filiale gebruik ’n verskeidenheid deelnemingstrukture ten opsigte van sake wat werknemers regstreeks en wesenlik raak, en is ontwerp om goeie werkgewer/werknemer-verhoudinge te skep. Hulp–middels is die doeltreffende verspreiding van toepaslike inligting, oorlegpleging en oplossing van konflikte. Hierdie strukture omsluit doelwitte met betrekking tot produktiwiteit, loopbaan–sekuriteit, vereenselwiging met die groep en, waar van toepassing, plaaslike wetsvereistes.

Die groep fokus op diensbillikheidsteikens in sy Suid-Afrikaanse bedrywighede, insluitend die stel van spesifieke indiensnemingsteikens, mentorskappe vir voorheen benadeelde werknemers, die integrasie van liggaamlik gestremde persone, die bevordering van ’n omgewing wat vry is van diskriminasie teen vroue, en voorkeure ten opsigte van aankope. Diensbillikheidsteikens is in die sakeplanne van die Suid-Afrikaanse bedrywighede ingebou en prestasie word gemeet. Aandag word ook gegee aan spesifieke opleidingsbehoeftes vir geïdentifiseerde swart opvolgers.

Opvolgplanne vir senior bestuursposte word gereeld hersien.

Diens aan ons gemeenskappe

Die groep speel ’n aktiewe rol in die gemeenskappe wat hy dien. Ons fokus hoofsaaklik op geletterdheids- en opvoedkundige programme in Afrika.

Besonderhede oor die korporatiewe maatskaplike beleggings- en volhoubaarheidsinisiatiewe van die groep se Suid-Afrikaanse filiale is beskikbaar op die webwerwe van MultiChoice (www.multichoice.co.za) en Media24 (www.media24.com).

 
 
 
Naspers