• 1
  • 2
 
 
 
 
Soek
 
 

 

Finansiële oorsig

KONTANTVLOEI EN BALANSSTAAT

Die balansstaat bly gesond, met ’n hefboomverhouding van 3%, transpondeer-
derbruikhuurooreenkomste uitgesluit. Vrye kontantvloei wat in die huidige jaar deur die groep gegenereer is, het R2,4 miljard (2008: R2,1 miljard) bedra.

BEDUIDENDE VERKRYGINGS

In September 2008 het die groep 100% van Vatera.hu, ’n aanlynveilingsmaatskappy in Hongarye, verkry teen ’n kontantbedrag van sowat R183 miljoen (VS$23 miljoen). Ons is tans besig om die koopprystoekenning te finaliseer en het dit, gegrond op ’n voorlopige waardasie, soos volg erken: netto tasbare bates (R2 miljoen), ontasbare bates (R54 miljoen) en die res as klandisiewaarde.

In Desember 2008 het die groep ’n ooreenkoms aangegaan om ’n belang van 37% in Xin’an Media, ’n toonaangewende koerantuitgewer in China, teen ’n kontantkoop som van R315 miljoen (VS$31 miljoen) te bekom. Die koopprystoekenning word tans gefinaliseer. ’n Voorlopige waardasie erken netto tasbare bates van R133 miljoen, ontasbare bates van R162 miljoen en die res as klandisiewaarde.

In Desember 2008 het die groep nog 10,3% van mail.ru (saam met ’n belegging wat ons belang in Molotok verhoog het) teen ’n kontantbedrag van R1,03 miljard (VS$101 miljoen) verkry, wat ons aandeelhouding in mail.ru op 42,9% te staan bring. Die koopsom, gegrond op ’n voorlopige skatting, is soos volg erken: netto tasbare bates van R270 miljoen en die res as klandisiewaarde.

Die groep het ook ander verkrygings teen ’n gesamentlike koste van sowat R598 miljoen (VS$68 miljoen) bekom. Die omset en winste uit hierdie verkrygings was nie wesenlik vir die gekonsolideerde resultate nie.

BEËINDIGDE BEDRYWIGHEDE

In April 2008 het die groep ’n proses aangekondig om NetMed, die betaaltelevisie- onderneming in Griekeland en Ciprus, aan ForthNet SA te verkoop. Die transaksie is in Augustus 2008 beklink en ’n rekeningkundige wins van R2,97 miljard is met die verkoop erken. Die transaksie is in ooreenstemming met IFRS 5 “Nie-bedryfsbates Beskikbaar vir Verkoop en Beëindigde Bedrywighede” as ’n beëindigde bedrywigheid verantwoord.

REKENINGKUNDIGE BELEID EN VERANDERINGS IN REKENINGKUNDIGE HANTERING

Ons finansiële resultate vir die jaar geëindig 31 Maart 2009 is opgestel in ooreenstemming met ‘Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde’ (“IFRS”), die bepalings van die Suid-Afrikaanse Maatskappywet, Nr 61 van 1973, en met voldoening aan noteringsvereistes van die JSE Beperk. Die rekeningkundige beleid strook met dié wat in die vorige tydperk gebruik is, en met IFRS.

Hierdie resultate is geouditeer deur die maatskappy se ouditeur, PricewaterhouseCoopers Ing., wie se ongekwalifiseerde verslag ter insae by die geregistreerde kantoor van die maatskappy beskikbaar is.

Voorkeurdividendinkomste was voorheen ingesluit by “rente ontvang”, maar is herklassifiseer na “ander finansieringsinkomste” om die aard daarvan beter te weerspieël.

Die koopprystoekenning vir die verkryging van Tradus plc. is gedurende die jaar soos volg gefinaliseer: klandisiewaarde het met R3,2 miljard gedaal, ontasbare bates het met R3,9 miljard gestyg en uitgesteldebelasting- laste het met R731 miljoen gestyg. Die groep het sy balansstaat op 31 Maart 2008 dienooreenkomstig hersaamgestel.

GEBEURTENISSE NÁ BALANSSTAATDATUM

Op 10 November 2008 het die groep aangekondig dat ’n ooreenkoms aangegaan is om MWEB se besigheid in Afrika suid van die Sahara, Suid-Afrika uitgesluit, te verkoop. Die koopprys vir ons aandeel was sowat R500 miljoen en die transaksie is ná jaareinde in April 2009 afgehandel.

Ná 31 Maart 2009 het Media24 besluit om grond en geboue by Heerengracht 40, Kaapstad, aan Naspers Eiendomme (Eiendoms) Beperk, ’n volfiliaal van Naspers, te verkoop. Die doel is om Media24 se balansstaat te versterk en die verkoopprys van R280 miljoen is op onafhanklike eksterne waardasies gegrond.

Op 9 Junie 2009 het die groep aangekondig dat hy ’n openbare tenderaanbod gemaak het om tot 100% van die Warskougenoteerde finansiële portaal Bankier.pl te verkry. Bankier.pl bied finansiële nuus, ontledings en prysvergelykings diensteinligting oor finansiële produkte vir verbruikers. Indien die aanbod slaag, beoog Allegro, ’n filiaal van die groep, om Bankier.pl se produkte en dienste by sy e-handelsplatform in Pole in te lyf. Indien die aanbod 100% aanvaar word, sal die Totaale belegging ongeveer R156 miljoen (PLN62,8 miljoen) wees.

 
  • 1
  • 2
 
 
Naspers