Die direkteure bied hul jaarverslag aan, wat deel vorm van die geouditeerde finansiële jaarstate van die maatskappy en die groep vir die jaar geëindig 31 Maart 2009.
AARD VAN SAKEBEDRYWIGHEDE
Naspers Beperk is in 1915 ingevolge die wette van die Republiek van Suid-Afrika geïnkorporeer. Die hoofbedrywighede van Naspers en sy bedryfsfiliale, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatskappye (gesamentlik “die groep”) is in die bedryf van betaaltelevisie en die verskaffing van verbandhoudende tegnologieë, die bedryf van internet- en kitsboodskap-intekenaarplatforms, e-handelplatforms en die publikasie, verspreiding en druk van tydskrifte, koerante en boeke. Hierdie aktiwiteite word hoofsaaklik in Suid-Afrika, Afrika suid van die Sahara, China, Middel- en Oos-Europa, Rusland, Indië en Brasilië bedryf.
BEDRYFSOORSIG
Die internetsegment het ’n omset van R3,8 miljard getoon, wat opgeskiet het ná die insluiting van Allegro, Ricardo en Gadu-Gadu. Hierdie verhoging is toe te skryf aan sterk prestasie deur gevestigde bedrywighede en die insluiting van die nuwe beleggings in die huidige jaar. Die e-handelsbedrywighede van Allegro (Oos-Europa) en Ricardo (Wes-Europa) het omset van R1,9 miljard gegenereer. Die grootste markte, Pole en Switserland, het goeie groei getoon. Nuwe dienste is in sekere kleiner markte bekend gestel.
In China het Tencent verwagtings oortref en groei op die meeste platforms aangeteken. Die Olimpiese Spele het verkeer tot amper een miljard bladsybesoeke per dag laat styg en gelyktydige spitstydgebruikers het 57 miljoen verbygesteek. Die toevoeging van verskeie nuwe speletjies het bygedra tot bestendige groei.
In Indië brei ibibo sy internetonderneming uit en fokus op sosiale media, soektogte en advertensies. ’n Ooreenkoms is met Tencent aangegaan waarvolgens die twee maatskappye gesamentlik die Indiese onderneming sal ontwikkel.
In Rusland brei mail.ru steeds uit en ontwikkel meervoudige inkomstestrome.
Ons betaaltelevisie-ondernemings wat bekostigbare vermaak verskaf, het hul man gestaan. In die geheel het die betaaltelevisiesegment se omset met 29% gestyg, danksy sterk intekenaargroei gedurende die tydperk. Bedryfsmarges het gekrimp weens die koste om die intekenaarbasis uit te brei, hoër inhoudskoste en as gevolg van groter mededinging. In Suid-Afrika het advertensie-inkomste teruggesak as gevolg van ’n algemene verlangsaming. Groter mededinging oor die vasteland word in hoër pryse vir sekere inhoud weerspieël.
Mobieletelevisie-lisensies is in Ghana, Kenia, Namibië en Nigerië geaktiveer. Die oprigting van DVB-H-netwerke en aanstelling van personeel in hierdie markte gaan voort.
Ons tegnologie-onderneming is swaarder deur die ekonomie getref as ons verbruikersgerigte bedryfseenhede. Konsolidasie van verskeie tegnologie-ondernemings in die Irdeto-groep het ontwikkelingsbesteding en bedryfskoste verlaag.
Drukmediabedrywighede in Suid-Afrika het slegs marginale omsetgroei van 3% gegenereer. Die sirkulasie en leserstal van koerante en tydskrifte het meestal skaflik gevaar, maar advertensies het die uitwerking van die resessie gevoel. In hierdie omgewing is bedryfskoste verlaag en kapitaalbesteding in toom gehou. Die impak van hierdie besparings sal later in die jaar blyk. Die drukkerysektor het omsetgroei van 4% behaal, hoewel marges deur laer drukvolumes en wisselkoerse geaffekteer is. Die boekuitgewerye vaar bevredigend.
In Brasilië het Abril ’n uitstekende jaar gehad, hoewel die uitwerking van ekonomiese onstuimigheid op die Brasiliaanse verbruiker nog nie duidelik is nie.
Vooruitskouend het ons meestal veerkragtige ondernemings in ekonomieë wat steeds groei. Finansiële prestasie in die jaar wat voorlê, sal beïnvloed word deur die wêreldwye ekonomiese omgewing, die ontwikkeling van internetgeleenthede, mededinging in betaaltelevisie, regulering en die grille van verbruikersgedrag.
Die groep het ’n sterk balansstaat en ons sal ons groeistrategie voortsit, naamlik om bestaande ondernemings organies uit te brei en nuwe inisiatiewe te ontwikkel. Nuwe beleggings sal oorweeg word waar geleenthede ontstaan. Ons strewe is steeds om oor die medium- en langer termyn waarde vir ons aandeelhouers te bied.
FINANSIËLE OORSIG
Die groep het omsetgroei van 30% tot R26,7 miljard (2008: R20,5 miljard) aangeteken. Die dryfvere vir hierdie groei was bestaande bedrywighede, wat met 19% gegroei het, sowel as nuwe verkrygings, wat 11% bygevoeg het. Die internetsegment is versterk deur die insluiting van Allegro en Ricardo (voorheen Tradus). Die betaaltelevisiesegment se omset het met 29% gestyg, danksy sterk intekenaargroei gedurende die tydperk.
Bedryfswins voor amortisasie en ander winste/verliese het met 21% tot R5,1 miljard gestyg (2008: R4,2 miljard). Groepmarges het egter gedaal as gevolg van groter mededinging in betaaltelevisiemarkte, asook die ontwikkelings-koste van verskeie nuwe dienste. Totaale ontwikkelingskoste het R1,2 miljard (2008: R1,1 miljard) bedra.
Die netto rentekoste vir die jaar het R306 miljoen bedra, in vergelyking met netto finansieringsinkomste van R503 miljoen in die vorige jaar. Dit het uit die befondsing van nuwe verkrygings ontstaan. Ander finansieringsinkomste sluit voorkeurdividend-inkomste van R377 miljoen (2008: R336 miljoen) en merk-tot-markwaarde gewaardeerde verliese van R375 miljoen in, vergeleke met ‘n wins van R166 miljoen in die vorige jaar.
Naspers se deel van die ekwiteitsverantwoorde resultate van sy geassosieerde maatskappye – hoofsaaklik Tencent, mail.ru en Abril – het tot R1,47 miljard gegroei (2008: R654 miljoen). Al drie ondernemings het goed gevaar onder leiding van buitengewone leierspanne. Die waardedaling van ekwiteitsverantwoorde beleggings hou merendeels verband met die onttrekking uit ’n Duitse mobieletelevisie-projek weens ’n onaantreklike regulatoriese omgewing.
’n Wins van R2,97 miljard uit die beëindiging van bedrywighede hou verband met die verkoop van betaaltelevisie-ondernemings in Griekeland en Ciprus. Hierdie opbrengs is eenmalig van aard en is teen langtermynskuld aangewend.
‘n Segmentele ontleding wat die omset en resultate van die individuele sakesegmente weerspieël, verskyn in aantekening 36 van die gekonsolideerde finansiële jaarstate.
AANDELEKAPITAAL
Die gemagtigde aandelekapitaal op 31 Maart 2009 bestaan uit:
- 1 250 000 A- gewone aandele van R20 elk, en
- 500 000 000 N- gewone aandele van 2 sent elk.
Naspers het geen nuwe A- gewone aandele gedurende die 2009- finansiële jaar uitgereik nie. Die groep het gedurende die jaar 30 000 N- gewone aandele aan die Naspers Aandele-aansporingstrust uitgereik, asook 966 000 N- gewone aandele aan die MIH (BVI) Aandele-aansporingstrust.
Die uitgereikte aandelekapitaal op 31 Maart 2009 was soos volg: |