• 1
  • 2
 
 
 
 
Soek
 
 

 

Verslag deur die voorsitter en die besturende direkteur

RISIKOBESTUUR

Risikobestuur is ’n integrale deel van die daaglikse werksaamhede van ons ondernemings. As ’n internasionale multimediagroep met sakebedrywighede in verskeie lande, is die groep aan ’n wye verskeidenheid risiko’s blootgestel, waarvan sommige ernstige gevolge kan inhou. Die gediversifiseerde aard van die groep help egter om blootstelling te versprei.

Naspers se direksie, in samewerking met direksies van sy groot filiaalmaatskappye, is daarvoor verantwoordelik om prosedures vir risikobestuur en -beheer te bepaal, asook om die doeltreffendheid van die prosedures te evalueer. Die identifisering van risiko’s en die bestuur daarvan is deel van elke sakeeenheid se sakeplan.

Risikobestuursfunksies is vir die groot maatskappye in die groep ingestel en die proses word van tyd tot tyd hersien.

Uit ’n verskeidenheid verwante blootstellings blyk dat die volgende groot risiko’s tans bestaan:

  • tegnologiese vernuwings
  • politieke en ekonomiese onstabiliteit
  • mededinging
  • inflasie van programkoste
  • valutaskommelings
  • wetgewing en regulasies.


Hoewel hierdie risiko’s meestal buite die direksie se beheer is, kan sekere maatreëls ingestel word om die uitwerking daarvan te beperk.

VERBINTENIS TOT BEMAGTIGING

Naspers ondersteun die strewe om voorheen benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika se hoofstroomekonomie te integreer. Ons is trots daarop dat Naspers die tweede opeenvolgende jaar as Suid-Afrika se mees bemagtigde mediamaatskappy aangewys is in die 2009-opname van topbemagtigingsmaatskappye.

Media24 se breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtigingsinisiatief, Welkom Yizani, sluit sowat 100 000 swart persone en groepe in wat onregstreeks ’n deel van Media24 Beperk besit.

Ons is ook trots op die feit dat Media24 volpunte behaal het vir die ondernemings-ontwikkelings- en sosio-ekonomiese komponente van die departement van handel en nywerheid se bemagtigingstelkaart.

MultiChoice Suid-Afrika se twee suksesvolle bemagtigingsinisiatiewe, Phuthuma Nathi en Phuthuma Nathi 2, sluit sowat 120 000 swart mense en groepe in wat onregstreeks ’n deel van MultiChoice Suid-Afrika besit.

’n Oorsig van korporatiewe bestuur en volhoubaarheid (risikobestuur ingesluit) verskyn op hier van hierdie jaarverslag.

 

DIREKTEURE

Kragtens die maatskappy se statute tree een derde van die nie-uitvoerende direkteure jaarliks uit en heraanstelling geskied nie outomaties nie. Adv F-A du Plessis, prof R C C Jafta en mnr T M F Phaswana, wat by die algemene jaarvergadering volgens rotasie uittree, is verkiesbaar en stel hulle vir herverkiesing beskikbaar.


Mnr S J Z Pacak is met ingang 1 April 2009 weer as ’n direkteur aangestel na sy sabbatsverlof van drie maande. Aandeelhouers sal gevra word om die heraanstelling van die direkteure wat volgens rotasie uittree te oorweeg, asook die bekragtiging van mnre L P Retief en S J Z Pacak se aanstelling as direkteure goed te keur, by die komende algemene jaarvergadering, waarvan die kennisgewing in hierdie jaarverslag verskyn. Die verkorte curricula vitae van al die direkteure verskyn in die direksie op hier van hierdie jaarverslag.

MENSE

Die nuwe wêreldwye ekonomiese landskap en snelbewegende markte vereis dat ons buigsaam moet wees en vinnig by verandering aanpas. Die groep het die regte vaardighede nodig om uitdagings die hoof te bied in die markte waarin ons bedrywig is. Ons is trots op die bydrae van ons mense
in soveel lande. Oor die afgelope jaar het hulle uithouvermoë, veerkragtigheid en vernuwende denke aan die dag gelê om die meeste van die doelwitte te bereik wat vir ons ondernemings gestel is. Ons waardeer hul toewyding.


Ten slotte bedank ek graag my mededireksielede vir hul leiding en ondersteuning gedurende ’n moeilike jaar.

 
Ton Vosloo
Voorsitter
  Koos Bekker
Besturende direkteur
 
  • 1
  • 2
 
 
Naspers