Ontluikende markte speel ’n sentrale rol
in ons strategie. Oor die geheel en op verbruikersvlak was hulle ook onder druk, maar het beter gevaar as ontwikkelde ekonomieë.
Ons onlangse verkrygings in die internetsegment – Allegro, Ricardo en Gadu-Gadu – vertoon stewig. Geassosieerde maatskappye Tencent in China en mail.ru in Rusland het mooi uitgebrei.
Ons betaaltelevisie-ondernemings het hul man gestaan. Wanneer mense ekonomiese druk ervaar, bestee hulle meer tyd tuis en is betaaltelevisie ’n bekostigbare vorm van vermaak. Ons het heelwat geld belê om só te kan groei, en die bruto intekenaarbasis wys dit.
Die tegnologie-onderneming, Irdeto, is
egter swaarder deur die ekonomie getref
as verbruikersgerigte bedryfseenhede.
Drukmediasirkulasie in Suid-Afrika en China het goed gevaar, maar advertensie-inkomste was traag. In Brasilië het Abril egter ’n goeie jaar beleef.
INTERNET
 |
|
Die internetsegment het ’n omset van R3,8 miljard getoon, wat gespring het ná die insluiting van Allegro, Ricardo en Gadu-Gadu. Bedryfswins voor amortisasie en ander winste/verliese was R128 miljoen.
|
Die e-handelsbedrywighede van Allegro (Oos-Europa) en Ricardo (Wes-Europa) het omset van R1,9 miljard gegenereer. Dié saamgevoegde e-sake het bo verwagting gepresteer. Nuwe dienste is in sekere lande bekend gestel.
Gadu-Gadu in Pole het nou 15 miljoen geregistreerde gebruikers. ’n Informele speletjiesportaal en virtuele netwerk is bygevoeg en verdere uitbreidings word beplan.
In China het Tencent verwagtings oortref en groei op die meeste platforms aangeteken. Die Olimpiese Spele het verkeer tot amper een miljard bladsybesoeke per dag laat styg en gelyktydige spitstydgebruikers het 57 miljoen verbygesteek. Verskeie nuwe speletjies het gelei tot bestendige
groei. Tencent se bydrae tot kernwesensverdienste het gestyg tot R1,2 miljard
(2008: R615 miljoen).
In Indië brei ibibo tans sy klein internetonderneming uit en fokus op sosiale media, soektogte en advertensies. Ingevolge ’n ooreenkoms met Tencent sal die twee maatskappye gesamentlik die Indiese onderneming ontwikkel.
In Rusland het mail.ru sy basis tot 58 miljoen aktiewe e-posgebruikers uitgebrei. Hierdie onderneming het R87 miljoen (2008: R49 miljoen) tot ons kernwesensverdienste bygedra.
Hy raak nou volwasse deur meervoudige
inkomstestrome te ontwikkel.

BETAALTELEVISIE
 |
|
In geheel het die betaaltelevisiesegment se omset met 29% uitgebrei, danksy intekenaargroei. Bedryfsmarges het gekrimp weens die koste om die intekenaarbasis te bou, asook weens hoër inhoudskoste wat vloei uit groter mededinging.
|

In Suid-Afrika het die basis met 453 000 bruto intekenare tot 2 401 000 toegeneem. Ons middelprys-boeket, Compact, was die gewildste. Advertensie-inkomste het teruggesak weens ’n ekonomiese afswaai.
In die res van Afrika suid van die Sahara het ’n fokus op plaaslike inhoud en SuperSport se dekking van die Olimpiese Spele 230 000 bykomende bruto intekenare bereik, wat die basis na 916 000 huishoudings gelig het. Die Compact-boeket staan op 313 000 intekenare. Skerper mededinging oor die vasteland word in hoër pryse vir sportinhoud weerspieël.
Mobieletelevisie-lisensies is in Ghana, Kenia, Namibië en Nigerië verkry. Die oprigting van DVB-H-netwerke en aanstelling van personeel in hierdie markte gaan voort.

IRDETO
 |
|
Irdeto het gedurende die tydperk sowat 15 miljoen voorwaardeliketoegang-eenhede aan klante gelewer. Aangesien Irdeto eerder operateurs as verbruikers bedien, is sy sakemodel in
’n groter mate deur die resessie geraak. Konsolidasie van verskeie ondernemings
in die Irdeto-groep het ontwikkelings- en bedryfskoste verlaag.
|
DRUKMEDIA
 |
|
Ons drukkery-onderneming, Paarl Media, is deur twee brande getref, waarvan die laaste die ernstigste lewensverlies en beserings nóg in die maatskappy se geskiedenis meegebring het. Ons harte gaan uit na die bedroefde gesinne.
|
In Suid-Afrika het drukmediabedrywighede slegs marginale omsetgroei van 3% gegenereer. Die sirkulasie en leserstal van koerante en tydskrifte het meestal skaflik gebly, maar advertensies het die uitwerking van die ekonomiese afswaai gevoel. In hierdie omgewing is bedryfskoste verlaag en kapitaalbesteding in toom gehou. Die impak van dié besparings behoort in die toekoms te materialiseer.
Die drukkerysektor het omsetgroei van
4% behaal, hoewel marges skraler is
weens laer drukvolumes en wisselkoerse.
Die boekuitgewerye vaar bevredigend.
In Brasilië het Abril ’n uitstekende jaar beleef en sy bydrae tot ons kernwesensverdienste het gestyg tot R414 miljoen
(2008: R150 miljoen).
DIVIDEND
Die direksie het aanbeveel dat die jaarlikse dividend met 15% tot 207 sent (voorheen
180 sent) per N- gewone aandeel verhoog word, en tot 41 sent (voorheen 36 sent) per ongenoteerde A- gewone aandeel. Indien dié voorstel deur aandeelhouers goedgekeur word, sal dividende betaalbaar wees aan alle aandeelhouers wat op 11 September 2009 geregistreer is. Dit sal op 14 September 2009 uitgekeer word. Die laaste dag van verhandeling met dividende is 4 September 2009.

STRATEGIE EN VOORUITSIGTE
Vooruitskouend besit ons meestal veerkragtige ondernemings in ekonomieë wat gemiddeld beter presteer as die ontwikkelde wêreld. Mededinging in betaaltelevisie, regulering en verbruikersbestedingsvlakke wek egter kommer.
Ons sal ons groeistrategie voortsit. Streng evaluasieprosesse word toegepas waar nuwe beleggings oorweeg word. Ons strewe steeds daarna om oor die medium- en langer termyn waarde vir ons aandeelhouers te bied. Die groep het ’n gesonde balansstaat.
AANDELEBEURSNOTERINGS
Naspers het ’n Vlak I Amerikaanse Depositobewys-program (ADB-program) en sy Amerikaanse Deposito-aandele (ADA’s) is op die Londense aandelebeurs (LSE) genoteer. Vlak I ADB’s word in die VSA op ’n oor-die-toonbank-grondslag verhandel. Internasionale beleggers kan dus Naspers-sekuriteite deur die Vlak I ADB-toonbankmark, op die Londense aandelebeurs óf op die JSE Beperk koop en verkoop.
KORPORATIEWE BESTUUR EN VOLHOUBAARHEID
Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid
is belangrik vir belanghebbendes van die Naspers-groep. Die direksie streef daarna om die groep se sake met integriteit te bedryf.
Hy is verbind tot toepaslike korporatiewe bestuursbeleid en -praktyke vir elke maatskappy in die groep.
Verskeie van Naspers se filiale word deur onafhanklike direksies beheer wat hul eie korporatiewe bestuurspraktyke en subkomitees saamgestel het, soos van toepassing op die maatskappye, en aan
die nodige bestuurs- en regulatoriese vereistes voldoen.
Op ’n voortgaande grondslag evalueer Naspers steeds terreine waar bestuurstoesig op ’n korporatiewe vlak en binne filiale versterk kan word. Die implikasies van die nuwe Maatskappywet in Suid-Afrika, asook die King III-kode oor korporatiewe bestuur, sal ook ontleed word en gepaste stappe sal gedoen word.
Naspers se volhoubaarheidsverslag ooreenkomstig die Global Reporting Initiative (GRI) – toepassingsvlak C – is beskikbaar by ons webwerf (www.naspers.com).
 |