Naspers
     
 
 
 
Soek
 
 

 

Verslag van die onafhanklike ouditeur

aan die lede van Naspers Beperk
 
Ons het die groep- finansiële jaarstate en finansiële jaarstate van Naspers Beperk geoudit. Hierdie finansiële state bestaan uit die gekonsolideerde en afsonderlike balansstate soos op 31 Maart 2009, en die gekonsolideerde en afsonderlike inkomstestate, die gekonsolideerde en afsonderlike state van veranderings in ekwiteit, en die gekonsolideerde en afsonderlike kontantvloeistate vir die jaar wat op daardie datum geëindig het, en ‘n opsomming van beduidende rekeningkundige beleid en ander verduidelikende aantekeninge, en die direkteursverslag, soos uiteengesit op hier.

DIREKTEURE SE VERANTWOORDELIKHEID VIR DIE FINSIËLE STATE

Die maatskappy se direkteure is verantwoordelik vir die opstel en redelike voorstelling van hierdie finansiële state ooreenkomstig ‘Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde’ (“IFRS”) en op die wyse wat deur die Maatskappywet van Suid-Afrika vereis word. Hierdie verantwoordelikheid sluit in: die ontwerp, implementering en instandhouding van interne beheer relevant tot die opstel en redelike voorstelling van finansiële state wat vry is van wesenlike wanvoorstelling, hetsy weens bedrog of foute; die selektering en toepassing van toepaslike rekeningkundige beleid; en die maak van rekeningkundige ramings wat in die omstandighede redelik is.

OUDITEUR SE VERANTWOORDELIKHEID

Dit is ons verantwoordelikheid om op grond van ons oudit ’n mening oor hierdie finansiële state uit te spreek. Ons het ons oudit ooreenkomstig ‘International Standards on Auditing’ (“ISA”) uitgevoer. Daardie standaarde vereis dat ons voldoen aan etiese vereistes en die oudit beplan en uitvoer om redelike gerusstelling te verkry of die finansiële state vry is van wesenlike wanvoorstelling.

‘n Oudit behels die uitvoer van prosedures om ouditbewyse te verkry oor die bedrae en openbaarmaking in die finansiële state. Die prosedures wat geselekteer word hang af van die ouditeur se oordeel, insluitend die beoordeling van die risiko’s van wesenlike wanvoorstelling van die finansiële state, hetsy weens bedrog of foute. Tydens daardie risikobeoordeling oorweeg die ouditeur interne beheer relevant tot die entiteit se opstel en redelike voorstelling van die finansiële state, ten einde ouditprosedures te ontwerp wat in die omstandighede toepaslik is, maar nie met die doel om ‘n mening uit te spreek oor die effektiwiteit van die entiteit se interne beheer nie. ’n Oudit sluit ook ’n evaluering in van die toepaslikheid van rekeningkundige beleid wat gebruik is en die redelikheid van rekeningkundige ramings wat deur bestuur gemaak is, asook ’n evaluering van die algehele aanbieding van die finansiële state.

Ons glo dat die ouditbewyse wat ons verkry het, toereikend en toepaslik is om ’n grondslag vir ons ouditmening te bied.

MENING

Na ons mening is die finansiële state, in alle wesenlike opsigte, ’n redelike voorstelling van die gekonsolideerde en afsonderlike finansiële stand van Naspers Beperk soos op 31 Maart 2009, en van die maatskappy se gekonsolideerde en afsonderlike finansiële prestasie en gekonsolideerde en afsonderlike kontantvloei vir die jaar wat op daardie datum geëindig het, ooreenkomstig ‘Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde’ (“IFRS”) en op die wyse wat deur die Maatskappywet van Suid-Afrika vereis word.

 

PricewaterhouseCoopers Ing.
Direkteur: Brendan Deegan
Geregistreerde ouditeur

Kaapstad, Suid-Afrika

26 Junie 2009