English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Die Naspers groep
   
  Finansiële oorsig
     
 

KONTANTVLOEI EN BALANSSTAAT

Gedurende die jaar is ’n driejaar-wentelkredietfasiliteit van VS$1,4 miljard verkry om die koop van Tradus te befonds. Die balansstaat bly gesond, met ’n hefboom- finansierings-verhouding van 11%, transpondeerderbruikhuurooreenkomste uitgesluit. Vrye kontantvloei wat in die huidige jaar deur die groep gegenereer is, het soos verlede jaar R2,2 miljard bedra.

BEDUIDENDE VERKRYGINGS

In Maart 2008 het die groep 100% van die uitgereikte aandelekapitaal van Tradus plc. verkry. Dié maatskappy lewer aanlyngebruikershandelsplatforms en verwante internetdienste wat kopers en verkopers met mekaar verbind. Die koopsom was R15,3 miljard, wat verkrygingskoste van R74 miljoen insluit. Die groep is besig om die koopsomtoekenning te finaliseer en het die koopsom, gegrond op ’n voorlopige waardasie, soos volg erken: netto tasbare bates (R491 miljoen), ontasbare bates
(R461 miljoen) en die res as klandisiewaarde.

In Desember 2007 het die groep 97% van die uitgereikte aandelekapitaal verkry van Gadu-Gadu S.A., die voorste kitsboodskapplatform in Pole. Die koopsom was R1,1 miljard, wat verkrygingskoste van R29 miljoen insluit. Die groep het die koopsom, gegrond op ’n waardasie, soos volg erken: netto tasbare bates (R191 miljoen), ontasbare bates (R224 miljoen) en die res as klandisiewaarde

In Desember 2007 het die groep 100% van die uitgereikte aandelekapitaal van Cloakware Inc., ’n maatskappy wat programmatuur-sekuriteitoplossings bied, verkry teen ’n koopsom van R505 miljoen. Die groep het die koopsom, gegrond op ’n waardasie, soos volg erken: netto tasbare laste
(R204 miljoen), ontasbare bates (R485 miljoen) en die res as klandisiewaarde.

Die omset en winste wat uit hierdie verkrygings erken is, was nie wesenlik ten opsigte van die groep se gekonsolideerde resultate vir die jaar nie.

In November 2007 het die groep sy verkryging van ’n belang van 40% in M-Net/SuperSport, soos in November 2006 aangekondig is, afgehandel. Die totale koopsom is vereffen deur die uitreiking van
21 601 667 Naspers N- gewone aandele en R250 miljoen kontant. Die billike waarde van die uitgereikte aandele was R180 per aandeel op 30 November 2007. Die groep het die koopsom, gegrond op ’n waardasie, soos volg erken: netto tasbare bates (R369 miljoen), ontasbare bates (R528 miljoen) en die res as klandisiewaarde.

BEËINDIGDE BEDRYWIGHEDE

In Oktober 2007 het Media24 aangekondig dat hy ’n aanbod aanvaar het vir die verkoop van sy privateonderwys- onderneming, Educor, wat as ’n lopende saak verkoop is. Media24 het sekere klein bates behou. Educor het gedurende die jaar geëindig 31 Maart 2008 ’n netto verlies uit bedrywighede ten bedrae van R153 miljoen aangeteken. Die groep het ook ’n verlies van R82 miljoen met die beëindiging van bedrywighede erken.

In Oktober 2007 het die groep aangekondig dat hy ’n formele proses begin het om NetMed te verkoop. In April 2008 is ’n verdere aankondiging deur die groep gemaak dat voorwaardelike verkoopooreenkomste vir die verkoop van NetMed met ForthNet SA aangegaan is. NetMed het gedurende die jaar geëindig 31 Maart 2008 ’n netto wins uit bedrywighede van R396 miljoen getoon.

Hierdie transaksies is in ooreenstemming met IFRS 5 “Nie-bedryfsbates Beskikbaar vir Verkoop en Beëindigde Bedrywighede” as beëindigde bedrywighede verantwoord.

REKENINGKUNDIGE BELEID EN VERANDERINGS IN REKENINGKUNDIGE HANTERING

Die finansiële resultate word opgestel in ooreenstemming met Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde (IFRS), die bepalings van die Suid-Afrikaanse Maatskappywet, Nr 61 van 1973, en die Noteringsvereistes van die JSE Beperk. Die rekeningkundige beleid wat gebruik is om die resultate op te stel, strook met dié wat in die vorige tydperk gebruik is, met uitsondering van die veranderings in rekeningkundige standaarde soos hieronder aangedui. ’n Afskrif van die ongekwalifiseerde ouditmening van die ouditeur, PricewaterhouseCoopers Ing., lê ter insae by die geregistreerde kantoor van die maatskappy.

Veranderings in rekeningkundige standaarde

IFRS 7 “Openbaarmaking van Finansiële Instrumente” – Die standaard voeg sekere nuwe openbaarmakingsvereistes vir finansiële instrumente by dít wat vereis word deur IAS 32 “Finansiële Instrumente: Aanbieding”.

Wysiging van IAS 1 “Aanbieding van Finansiële State: Kapitaal-openbaarmakings” – Die wysiging vereis bykomende openbaarmakings van die groep se doelwitte, beleid en prosesse vir die bestuur van kapitaal.

Die groep het die openbaarmakings, insluitend vergelykende inligting, verstrek in die betrokke aantekeninge by die finansiële jaarstate wat op hier van hierdie jaarverslag verskyn.

Omsendbrief 8/2007 “Wesensverdienste” – Dit vervang Omsendbrief 7/2002 “Wesensverdienste” en gee uitvoerige leiding oor die berekening van wesensverdienste soos deur die JSE vereis word. Hierdie omsendbrief is deur die groep aanvaar en het geen wesenlike uitwerking op die groep se vorige gerapporteerde resultate gehad nie.

 
 
  Finansiële oorsig    
Terug na bo