English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Die Naspers groep
   
  Voorsittersoorsig
     
 
 

AANDELEBEURSNOTERINGS

Gedurende 2007 het die maatskappy besluit om sy Amerikaanse deposito-aandele (ADA's) te denoteer van NASDAQ en sy registrasie van die ADA's by die SEC (Securities and Exchange Commission) in die VSA te beëindig. Naspers het sy Amerikaanse Depositobewysprogram (ADB-program) in 'n Vlak I ADBprogram omskep. Sy aansoek het ook geslaag om sy ADA's op die Londense effektebeurs (LSE) te noteer. Vlak I ADB's word in die VSA op 'n oor-die-toonbank (ODT) basis verhandel. Internasionale beleggers kan dus Naspers-sekuriteite deur die Vlak I ADB-ODT, die LSE of die JSE koop en verkoop.

KORPORATIEWE BESTUUR EN VOLHOUBAARHEID

Aangesien korporatiewe bestuur en volhoubaarheid noodsaaklik is vir belanghebbers van die Naspers-groep, is dit die direksie se strewe om die sake van die groep met integriteit te bedryf. Die direksie is verbind tot toepaslike korporatiewe bestuursbeleid en -praktyke in elke maatskappy in die groep.

Onafhanklike direksies, wat almal hul eie bestuurspraktyke en subkomitees saamgestel het wat aan die nodige bestuurs- en regulatoriese vereistes voldoen soos van toepassing, beheer verskeie van Naspers se filiale.

In die komende boekjaar sal Naspers voortgaan om terreine te evalueer waar bestuur op 'n korporatiewe vlak en binne filiale versterk kan word. Die implikasies van die nuwe voorgestelde Maatskappywetsontwerp in Suid-Afrika, asook die King II-kode oor korporatiewe bestuur (tans onder hersiening), sal ook ontleed word en gepaste stappe sal gedoen word.

For the ensuing financial year, Naspers will continue to evaluate areas where governance at a corporate and subsidiary level can be strengthened. The implications of new proposed Companies Bill in South Africa, as well as the King II code on Corporate Governance (currently under review) will also be analysed and appropriate steps taken.

Naspers het vir die eerste keer 'n volhoubaarheidsverslag opgestel in ooreenstemming met die Global Reporting Initiative (GRI) - toepassingsvlak C. Die dokument is beskikbaar op ons webwerf (www.naspers.com).

Risikobestuur

Die bestuur van risiko speel 'n sentrale rol in die daaglikse werksaamhede van al ons ondernemings. As 'n internasionale multimediagroep met sakebedrywighede in verskeie lande is die groep aan 'n wye verskeidenheid risiko's blootgestel, waarvan sommige ernstige gevolge kan inhou. Die gediversifiseerde aard van die groep help egter om blootstelling te versprei.

Naspers se direksie is, in samewerking met die direksies van beduidende filiaalmaatskappye, daarvoor verantwoordelik om prosedures vir risikobestuur en -beheer te bepaal, asook om die doeltreffendheid van die prosedures te evalueer. Die identifisering van risiko's en die bestuur daarvan is deel van elke sake-eenheid se sakeplan.

235   miljoen rand aan SEB-deelnemers in die Welkom-aandeleskema uitbetaal

Risikobestuursfunksies is vir die groot maatskappye in die groep ingestel, en die proses word van tyd tot tyd hersien.

Uit 'n verskeidenheid verwante blootstellings blyk dit dat die volgende groot risiko's tans bestaan:
  • globale politieke en markverwikkelinge
  • mededinging en tegniese innovasies
  • valutaskommelings
  • wetgewing en regulasies
  • politieke en ekonomiese onstabiliteit
  • tegnologiese onderbrekings.

Hoewel hierdie risiko's meestal buite die direksie se beheer is, kan maatreëls ingestel word om die uitwerking daarvan te beperk of te voorkom.

Verbintenis tot bemagtiging

Naspers ondersteun die strewe om voorheen benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika se hoofstroomekonomie te integreer.

Die Welkom-aandeleskema, wat in 1999 van stapel gestuur is, het in die 2007-boekjaar gesluit en elke R1 000 wat belê is, het 'n opbrengs van R31 000 gelewer. Die totale bedrag wat aan SEB-deelnemers uitbetaal is, het R235 miljoen beloop.

Media24 het met welslae 'n breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtigingskema, Welkom Yizani, afgesluit. Voortspruitend uit hierdie aandele-aanbod besit ongeveer 100 000 swart persone en groepe nou indirek 15% van Media24 Beperk.

MultiChoice Suid-Afrika het twee suksesvolle bemagtigingstransaksies, Phuthuma Nathi en Phuthuma Nathi 2, afgehandel. Hierdie transaksies is saamgestel om werklik breed gebaseer te wees. Sowat 120 000 swart persone en groepe besit nou indirek altesaam 20% van MultiChoice Suid-Afrika Beherend (Eiendoms) Beperk.

'n Volledige oorsig van korporatiewe bestuur (risikobestuur ingesluit) verskyn hier van die jaarverslag.

DIREKTEURE

Kragtens die maatskappy se statute tree een derde van die nie-uitvoerende direkteure jaarliks uit en heraanstelling geskied nie outomaties nie. Prof G J Gerwel, mnre J J M van Zyl en B J van der Ross, wat by die algemene jaarvergadering volgens rotasie uittree, is verkiesbaar en stel hulle vir herverkiesing beskikbaar.

Mnr J P Bekker is met ingang van 1 April 2008 weer as uitvoerende hoof vir 'n vaste termyn van vyf jaar aangestel, ná sy onbetaalde sabbatsjaar van een finansiële jaar. Aandeelhouers sal gevra word om die heraanstelling van die direkteure wat volgens rotasie uittree, asook die goedkeuring van mnr J P Bekker se aanstelling as besturende direkteur, te oorweeg by die komende algemene jaarvergadering, waarvan die kennisgewing in hierdie jaarverslag verskyn. Die verkorte curricula vitae van al die direkteure verskyn van die jaarverslag.

MENSE

Snelbewegende markte vereis dat ons buigsaam moet wees en vinnig by verandering aanpas. Die groep het die regte vaardighede nodig om die uitdagings die hoof te bied in al die markte waarin ons bedrywig is. Ons is trots op die bydrae van ons mense in soveel lande. Oor die afgelope jaar het hulle ondernemingsgees getoon deur die meeste van die doelstellings te bereik wat vir ons ondernemings gestel is. Ons waardeer hul toewyding.

Ten slotte bedank ek graag my mededireksielede vir hul leiding en ondersteuning gedurende 'n bedrywige jaar.


Ton Vosloo
Voorsitter
 
 
 
  Voorsittersoorsig    
Terug na bo