English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Gekonsolideerde en maatskappy finansiële jaarstate
   
  Kennisgewing van die algemene jaarvergadering  
     
 
Kennis word hiermee gegee dat die vier-en-negentigste algemene jaarvergadering van Naspers Beperk (“die maatskappy” of “Naspers”) op Vrydag, 22 Augustus 2008 om 11:15 op die 18de verdieping van die Naspers-Sentrum, Heerengracht 40, Kaapstad, Suid-Afrika, gehou sal word. Die volgende besluite sal oorweeg word en, indien goedgekeur, met of sonder wysiging aangeneem word:

GEWONE BESLUITE
1. Die finansiële state van die maatskappy en die groep vir die twaalf (12) maande tot 31 Maart 2008 en die verslae van die direkteure en die ouditeur sal vir oorweging en aanvaarding voorgelê word.
   
2. Bekragtiging van dividende met betrekking tot die N- gewone en A- gewone aandele van die maatskappy.
   
3. Goedkeuring van die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure vir die jaar tot 31 Maart 2008.
   
4. Heraanstelling van die firma PricewaterhouseCoopers Ing. as ouditeur vir die tydperk tot ná afl oop van die volgende algemene jaarvergadering van die maatskappy.
   
5. Goedkeuring van die heraanstelling van mnr J P Bekker, wat met ingang 1 April 2008 vir ’n vaste termyn van vyf jaar weer as besturende direkteur aangestel is en homself vir verkiesing as direkteur beskikbaar stel. Sy verkorte curriculum vitae verskyn in die direktoraat.
   
  Die direkteure beveel eenparig aan dat die heraanstelling deur die aandeelhouers van die maatskappy goedgekeur word. Indien hierdie gewone besluit aangeneem word, sal dit mnr Bekker se heraanstelling soos hierbo uiteengesit bevestig.
   
6. Om prof G J Gerwel en mnre J J M van Zyl en B J van der Ross, wat volgens rotasie aftree maar weer verkiesbaar is en hulle vir herverkiesing beskikbaar stel, te verkies. Hul verkorte curricula vitae verskyn in die direktoraat. Die herverkiesing van elke direkteur sal in afsonderlike gewone besluite uitgevoer word.
   
7. Om die gemagtigde maar onuitgereikte aandelekapitaal van die maatskappy onder die direkteure se beheer te plaas en, tot ná afl oop van die volgende algemene jaarvergadering van die maatskappy, onvoorwaardelike algemene magtiging aan die direkteure te verleen om na goeddunke (maar onderhewig aan die bepalings van artikel 221 van die Maatskappywet, Nr 61 van 1973, soos gewysig (“die Wet”), die vereistes van die JSE Beperk (“die JSE”) en enige ander aandelebeurs waarop die aandele van die maatskappy van tyd tot tyd genoteer kan wees) die onuitgereikte aandele van die maatskappy toe te ken en uit te reik volgens sodanige voorwaardes en bepalings en aan sodanige persone, hetsy hulle aandeelhouers van die maatskappy is of nie, soos wat die direkteure na hul goeddunke as gepas beskou.
   
8. Om, onderhewig aan minstens 75% van die stemme van aandeelhouers van die maatskappy wat persoonlik by die algemene jaarvergadering teenwoordig is of deur ’n gevolmagtigde verteenwoordig word en geregtig is om te stem, ten gunste daarvan stem, die direkteure te magtig, en dat hulle hiermee gemagtig is om onuitgereikte aandele in ’n klas aandele reeds uitgereik in die maatskappy se kapitaal vir kontant uit te reik soos en wanneer die geleentheid hom voordoen, onderhewig aan die vereistes van die JSE, wat die volgende insluit:
  • thierdie magtiging is nie langer as die vroegste van die maatskappy se volgende algemene jaarvergadering of vyftien (15) maande ná die datum van die vergadering geldig nie
  • dat ’n betaalde persaankondiging met volledige besonderhede, insluitend die uitwerking op netto batewaarde en verdienste per aandeel, uitgereik word ten tye van enige uitgifte wat op ’n kumulatiewe grondslag binne een jaar 5% of meer van die getal uitgereikte aandele van daardie klas voor die uitgifte verteenwoordig
  • die totale uitgifte van enige bepaalde klas aandele in enige boekjaar sal nie 5% van die uitgereikte getal aandele in daardie klas aandele oorskry nie (insluitend sekuriteite wat verpligtend omskepbaar is in aandele van daardie klas)
  • dat met die bepaling van die prys waarteen ’n uitgifte van aandele ingevolge hierdie magtiging gedoen word, die diskonto waarteen die aandele uitgereik word nie 10% van die geweegde gemiddelde handelsprys van die betrokke aandele soos bepaal gedurende die dertig (30) sakedae voor die datum waarop die uitgifteprys bepaal word, sal oorskry nie, en
  • dat die aandele slegs uitgereik word aan “openbare aandeelhouers” soos omskryf in die JSE se noteringsvereistes, en nie aan verwante partye nie.
  Die volgende spesiale besluite sal oorweeg word en, indien goedgekeur, met of sonder wysiging aanvaar word:

SPESIALE BESLUIT NOMMER EEN
Dat die maatskappy of enige van sy filiale hiermee deur ’n algemene magtiging gemagtig word, en is, om N- gewone aandele wat deur die maatskappy uitgereik is, te verkry, ingevolge en onderhewig aan artikels 85(2), 85(3) en 89 van die Maatskappywet, Nr 61 van 1973, soos gewysig, en die reëls en vereistes van die JSE, naamlik dat:
  • enige sodanige verkryging van N- gewone aandele bewerkstellig word deur die bestelboek van die JSE-verhandelingstelsel en gedoen word sonder enige vooraf verstandhouding of reëling
  • hierdie algemene magtiging geld tot die maatskappy se volgende algemene jaarvergadering, met dien verstande dat dit nie later is nie as vyftien (15) maande vanaf die datum waarop hierdie spesiale besluit geneem is
  • ’n aankondiging met volledige besonderhede van sodanige verkrygings gepubliseer sal word sodra die maatskappy of enige van sy filiale N- gewone aandele verkry het wat op ’n kumulatiewe grondslag 3% van die getal N- gewone uitgereikte aandele voor die verkryging uitmaak waarvolgens die genoemde 3%-drempel bereik is, en vir elke 3% in totaal wat daarna verkry word
  • verkrygings van N- gewone aandele in ’n boekjaar in totaal nie 20% van die maatskappy se N- gewone uitgereikte aandelekapitaal, soos op die datum waarop hierdie spesiale besluit aangeneem is, mag oorskry nie
  • met die bepaling van die prys waarteen N- gewone aandele soos uitgereik deur die maatskappy deur hom of enige van sy filiale kragtens hierdie algemene magtiging verkry word, die maksimum premie waarteen sodanige N- gewone aandele verkry mag word, nie 10% sal oorskry nie van die geweegde gemiddelde van die markwaarde waarteen sodanige N- gewone aandele op die JSE verhandel word soos bepaal oor die vyf besigheidsdae onmiddellik voor die datum van terugkoop van sodanige N- gewone aandele deur die maatskappy of enige van sy filiale
  • die maatskappy deur sy statute daartoe gemagtig is
  • die maatskappy op enige tydstip slegs een agent mag aanstel om ’n terugkoop namens die maatskappy te bewerkstellig
  • die maatskappy se borg die toereikendheid van die maatskappy se bedryfskapitaal vir doeleindes van die terugkoop van N- gewone aandele skriftelik aan die JSE moet bevestig voordat die mark betree word met die terugkoop
  • die maatskappy te alle tye die JSE se noteringsvereistes ten opsigte van minimum aandeelhouersverspreiding nakom, en
  • die maatskappy en/of sy filiale nie enige N- gewone aandele terugkoop tydens ’n verbode tydperk soos omskryf in die JSE se noteringsvereistes nie.
  Voordat die algemene terugkoop bewerkstellig word, sal die direkteure, met inagneming van die uitwerking van die terugkoop van die maksimum getal N- gewone aandele kragtens voorgemelde algemene magtiging, verseker dat vir ’n tydperk van twaalf (12) maande na die datum van die kennisgewing van die algemene jaarvergadering:
  • die maatskappy en die groep in die gewone gang van sake in staat sal wees om sy skuld te betaal
  • die bates van die maatskappy en die groep, billik gewaardeer in ooreenstemming met Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde, die maatskappy en die groep se laste sal oorskry, en
  • die maatskappy en die groep se gewone aandelekapitaal, reserwes en bedryfskapitaal vir die doel van gewone sakebedrywighede toereikend sal wees.
  Die volgende bykomende inligting, waarvan ’n deel elders in die jaarverslag waarvan hierdie kennisgewing deel vorm, verskyn, word ingevolge die JSE se noteringsvereistes verskaf vir die doel van die algemene magtiging:
  Direkteure se verantwoordelikheidsverklaring
Die direkteure, wie se name in die direktoraat verskyn, aanvaar gesamentlik en afsonderlik volle verantwoordelikheid vir die juistheid van die inligting rakende hierdie spesiale besluit nommer een en verklaar dat, na hul beste wete en oortuiging, geen feite weggelaat is wat enige verklaring vals of misleidend sou maak nie, en dat alle redelike navrae gedoen is om sulke feite te staaf en dat spesiale besluit nommer een alle tersaaklike inligting bevat.

Wesenlike veranderings
Buiten die feite en ontwikkelings waaroor in die jaarverslag gerapporteer is, was daar geen wesenlike veranderings in die sake of finansiële posisie van die maatskappy en sy filiale sedert die datum van ondertekening van die ouditverslag en tot op die datum van hierdie kennisgewing nie.

Die direkteure het tans geen spesifieke voorneme vir die maatskappy om enige van sy N- gewone aandele terug te koop nie, maar is van mening dat so ’n algemene magtiging gegee behoort te word indien ’n terugkoopgeleentheid wat in die beste belang van die maatskappy en sy aandeelhouers is, hom gedurende die jaar voordoen.

Die rede vir en die uitwerking van spesiale besluit nommer een is om aan die maatskappy ’n algemene magtiging kragtens die Maatskappywet en die JSE se noteringsvereistes te verleen dat die maatskappy, of ’n filiaal van die maatskappy, N- gewone aandele van die maatskappy verkry.

SPESIALE BESLUIT NOMMER TWEE

Die rede vir en die uitwerking van spesiale besluit nommer een is om aan die maatskappy ’n algemene magtiging kragtens die Maatskappywet en die JSE se noteringsvereistes te verleen dat die maatskappy, of ’n filiaal van die maatskappy, N- gewone aandele van die maatskappy verkry.

Die rede vir en die uitwerking van spesiale besluit nommer twee is om aan die maatskappy ’n algemene magtiging kragtens die Maatskappywet te verleen dat die maatskappy, of ’n filiaal van die maatskappy, A- gewone aandele van die maatskappy bekom.

SPESIALE BESLUIT NOMMER DRIE

Dat die statute van die maatskappy gewysig word deur die woorde “van die oordragsekretaris” regstreeks na die woord “kantoor” in die eerste reël van paragraaf 34.2 in te voeg.

Die rede vir en die uitwerking van spesiale besluit nommer drie is om voorsiening te maak dat volmagvorms by die kantoor van die oordragsekretaris ingedien kan word, en nie by die kantoor van die maatskappy nie.

  9. GEWONE BESLUIT
Alle direkteure van die maatskappy word hiermee gemagtig om alle stappe te doen, alle handelinge te verrig en alle dokumente te onderteken wat nodig is om die gewone en spesiale besluite wat by hierdie algemene jaarvergadering aangeneem word, in werking te stel.

10. ANDER SAKE
Sodanige ander sake word gedoen as wat by ’n algemene jaarvergadering gedoen mag word.

Aandeelhouers wat geregtig is om ’n algemene jaarvergadering by te woon en daarop te stem, mag een of meer gevolmagtigdes aanstel om die vergadering in hul plek by te woon, daarop te praat en te stem. ’n Gevolmagtigde hoef nie ’n aandeelhouer van die maatskappy te wees nie.

’n Volmagvorm met die nodige aanwysings vir voltooiing word aangeheg vir die gebruik van lede met aandelesertifikate en “eie-naam”-gedematerialiseerde aandeelhouers wat by die algemene jaarvergadering verteenwoordig wil word. Die voltooiing van ’n volmagvorm verhoed nie die betrokke aandeelhouer om die algemene jaarvergadering by te woon en te stem nie (in die plek van die aandeelhouer se gevolmagtigde).

Houers van gedematerialiseerde aandele, “eie-naam”-gedematerialiseerde aandeelhouers uitgesluit, wat by die algemene jaarvergadering wil stem, moet hul Sentrale Effekte-Bewaardeelnemer (“SEBD”) of makelaar op sodanige manier en teen sodanige spertyd soos deur die SEBD of makelaar verlang, dienooreenkomstig in kennis stel.

Houers van gedematerialiseerde aandele, “eie-naam”-gedematerialiseerde aandeelhouers uitgesluit, wat die algemene jaarvergadering persoonlik wil bywoon, moet die nodige magtiging so gou moontlik deur middel van hul SEBD of makelaar reël.

Die vorm waarvolgens ’n gevolmagtigde aangestel word en die magtiging (indien enige) waarkragtens dit geteken word, moet die geregistreerde kantoor van die maatskappy teen nie later nie as Donderdag, 21 Augustus 2008 om 11:15 bereik. ’n Volmagvorm word by hierdie kennisgewing ingesluit. Die volmagvorm is ook by die geregistreerde kantoor van die maatskappy verkrygbaar. Op las van die direksie

 
G M Coetzee

Maatskappysekretaris

30 Julie 2008
Kaapstad
 
 
  Kennisgewing van die algemene jaarvergadering      
Terug na bo