Inleiding
Aangesien korporatiewe bestuur noodsaaklik is vir die belanghebbendes van die Media24 Beherend-groep, is dit die direksie se strewe om die sake van die groep met integriteit te bedryf. Die direksie is verbind tot toepaslike korporatiewe bestuursbeleid en -praktyke in elke maatskappy in die groep.
Media24 Beherend is ’n filiaal van Naspers Beperk (’n maatskappy wat op die JSE Beperk en die Londense aandelebeurs genoteer is), en poog dus om, waar moontlik, te voldoen aan onder meer die riglyne wat vervat is in die King-verslag oor korporatiewe bestuur vir Suid-Afrika van 2002 (King II).
Media24 Beherend het ’n onafhanklike direksie,
met sy eie gevestigde bestuurspraktyke en
subkomitees wat in die geheel aan toepaslike
bestuurs- en regulatoriese vereistes voldoen.
Die direksie se oudit- en risikobestuurskomitee
en mensehulpbronnekomitee speel ’n sleutelrol
om goeie korporatiewe bestuur te verseker.
Verbeterings gedurende die afgelope jaar
en planne vir die komende jaar
Die beplanning van en verslagdoening oor
die groep se volhoubaarheid op alle tersaaklike
gebiede, maar met ’n besondere fokus op
korporatiewe maatskaplike beleggings, is
hersien.
Hoewel die direksie van mening is dat die
maatskappy se nakoming van die toepaslike
bestuursvereistes voldoende is, besef hy dat
praktyke en prosedures altyd verbeter kan
word en derhalwe evalueer hy die vordering
op ’n jaarlikse grondslag.
In die komende boekjaar sal Media24 Beherend
voortgaan om gebiede te evalueer waar
korporatiewe bestuur versterk kan word. Die
implikasies van die nuwe voorgestelde
Maatskappywetsontwerp in Suid-Afrika, asook
die King III-kode oor korporatiewe bestuur (tans
hersien), sal ook ontleed word en gepaste
stappe sal gedoen word.
Die direksie
Samestelling
Die besonderhede van die direkteure op
31 Maart 2008 word op hier van
hierdie jaarverslag uiteengesit.
Media24 Beherend het ’n unitêre direksiestruktuur
wat ’n toesighoudende asook ’n
beherende funksie vervul. Die direksie het
’n reglement wat ’n duidelike verdeling van
verantwoordelikhede aandui. Die meeste
direksielede is nie-uitvoerende direkteure wat
onafhanklik van bestuur is, om te verseker dat
niemand onbeperkte besluitnemingsmag en
-gesag het nie. Dit verseker dat aandeelhouersbelange
beskerm word. Hierbenewens is die
rolle van die voorsitter en uitvoerende hoof
geskei om ’n duidelik omskrewe verdeling van
verantwoordelikhede te verseker.
Die voorsitter
Die voorsitter is ’n onafhanklike, nie-uitvoerende
direkteur. Hy gee leiding aan die direksie in die
geheel en verseker dat die direksie doeltreffend
en gefokus is en as ’n eenheid werk. Hy tree as
fasiliteerder by direksievergaderings op om ’n
vloei van menings te verseker en poog om, in
belang van goeie bestuur, besprekings tot
optimale resultate te lei. Hy verteenwoordig die
direksie in eksterne kommunikasie, in oorleg met
die uitvoerende hoof en die finansiële hoof.
Die uitvoerende hoof
Die uitvoerende hoof rapporteer aan die direksie
en is verantwoordelik vir die daaglikse sake van
die groep en die uitvoer van beleid en strategieë
wat deur die direksie goedgekeur is. Uitvoerende
hoofde van die onderskeie ondernemings help
hom met hierdie taak. Gesag wat deur die
direksie aan die bestuur toegesê is, word deur
die uitvoerende hoof in ooreenstemming met
goedgekeurde gesagsvlakke gedelegeer.
Aanstellings in die direksie
Die direksie het ’n beleid aanvaar oor prosedures
vir die aanstelling en oriëntering van direkteure.
Die nominasiekomitee beoordeel van tyd tot tyd
die vaardighede van die nie-uitvoerende
direkteure in die direksie en besluit of daardie
vaardighede aan die maatskappy se behoeftes
voldoen. Jaarlikse selfbeoordelings deur die
direksie en sy subkomitees help ook hiermee.
Direkteure word uitgenooi om te help met die
identifisering en nominasie van potensiële
kandidate. Die lede van die nominasiekomitee,
wat almal onafhanklik is, stel geskikte kandidate
vir oorweging deur die direksie voor. ’n “Geskikte
en gepaste” evaluering van elke geïdentifiseerde
kandidaat word gedoen.
Uittrede en herkiesing van direkteure
Geen direkteur is tans aan uittrede en herkiesing
deur aandeelhouers by ’n algemene
jaarvergadering onderworpe nie. Ton Vosloo,
Ruda Landman, Russel Botman en Wilmot James
stel hulself egter op ’n vrywillige basis beskikbaar
vir uittrede, maar hulle is as direkteure
herkiesbaar.
Oriëntering en ontwikkeling
Daar is ’n induksieprogram vir nuwe lede van die
direksie en van sleutelkomitees, wat spesifiek
aangepas word by die behoeftes van elke
individu. Die program behels bedryfs- en
maatskappy-spesifieke oriëntering, insluitend
maatskappybesoeke en vergaderings met senior
bestuur soos toepaslik, om ’n begrip van
bedrywighede te verseker. Die maatskappysekretaris
help die voorsitter met die induksie en
oriëntering van direkteure, en reël ook spesifieke
opleiding, indien nodig.
Die maatskappy is verbind tot die voortgesette
ontwikkeling van direkteure om hulle te help om
hul kundigheid uit te brei en ’n begrip te kry van
die ondernemings en die markte waarin die
maatskappy werksaam is.
Botsings van belange
Media24 Beherend het formele prosedures
aanvaar wat handel oor die bestuur van
potensiële botsings van belange om te verseker
dat kandidaatdirekteure, asook bestaande
direkteure, geen botsings van belange tussen hul
verpligtinge teenoor die maatskappy en hul
private belange het nie. Enige belang in kontrakte
met die maatskappy moet amptelik openbaar
gemaak en gedokumenteer word. Direkteure
moet ook by ’n formele beleid hou ten opsigte
van die verhandeling van sekuriteite van Media24
Beherend se beheermaatskappy, Naspers. |