Volhoubare ontwikkeling
Media24 het vir die eerste keer ’n volhoubaarheidsverslag volgens die Global Reporting Initiative (GRI) – toepassingsvlak C – opgestel. Die dokument is beskikbaar by die webwerf (www.media24.com).
Media24 is ’n uiteenlopende groep met werksaamhede regoor Suid-Afrika, waarvan sommige binne die bestuursbeheer van die groep val, soos in die afdeling Oorsig van Werksaamhede in hierdie jaarverslag beskryf word. Alle ondernemings onder die operasionele beheer van Media24 of sy filiale is by die GRI-verslag ingesluit.
Media24 beskou die beperking van die impak op die omgewing en die doeltreffende bestuur van beroepsgesondheids- en veiligheidsrisiko’s as belangrike doelwitte, en dit is vir al ons ondernemings belangrik om van nut te wees in die gemeenskappe waarin ons werksaam is.
Diversiteit en diensbillikheid
Vyftig persent van Media24 se topbestuur bestaan nou uit swart persone.
Ná die jaareinde het die direksie die aanstelling van Francois Groepe as die eerste swart uitvoerende hoof van Media24 vanaf 1 Julie 2008 aangekondig.
In die bestuurskategorieë (graad C tot E) is ’n diensbillikheidstotaal van 31% swart werknemers bereik. Besteding aan vaardigheidsontwikkeling en opleiding het R13,6 miljoen bedra, waarvan R7,7 miljoen (59%) toeskryfbaar is aan die vaardigheidsontwikkeling van swart werknemers. Uit altesaam 106 studente het 83 swart studente hul internskap in verskeie afdelings van die onderneming met welslae voltooi.
Welstand
Die maatskappy het vanjaar ’n welstandsentrum by sy kantoor in Kaapstad geopen. Hier kry werknemers verskeie gesondheidsdienste soos bloeddruk- en diabete stoetse, gratis MIV/vigsberading en -toetsing en ’n aantal risikobeheer programme. Deurlopende welstand ondersteuning word ook by klinieke regdeur die maatskappy verleen. Die maatskappy het ook ’n veldtog begin om gesonde eetgewoontes by personeel aan te moedig, deur gesonde ete-opsies by die verskillende personeel eetplekke aan te bied.

Die beroepsgesondheids- en veiligheidsbeleid is gedurende die jaar hersien, en jaarlikse gesondheids-, veiligheids- en omgewingsvoldoeningsoudits is gedurende die laaste kwartaal van die boekjaar gedoen. Daar was geen beduidende bevindings nie, maar wel aanbevelings vir verbeterings. Infrarooiskanderings van ons geboue is ook as deel van die jaarlikse oudits uitgevoer, en sake kontinuïteitsplanne is hersien. Veiligheids verteen woordigers het by verskillende geleenthede gedurende die jaar opleiding ontvang. Veral die Print24- onderneming het sy prosedures verbeter.
Media24 monitor beserings aan diens en verlore tyd as gevolg van die besering van werknemers, en streef ’n nulrekord ten opsigte van ernstige beserings en sterftes aan diens na. Een ernstige besering by die koerantdrukkery in Kaapstad is aangemeld. Die syfers is beskikbaar in die GRI-verslag. |