Koerante, tydskrifte en digitale uitgewery
In die koerantbedryf het die Daily Sun se sirkulasie tot meer as 513 000 per dag gestyg, wat beteken dat dit nou die grootste dagblad in Afrika is. Die weeklikse sokkersensasieblad, Soccer Laduuuuuma!, het volgens die jongste syfers van die Audit Bureau of Circulation (ABC) ’n rekordsirkulasiesyfer van ver bo 321 000 behaal. City Press het vanjaar ook sy 25ste herdenking gevier deur verskeie inisiatiewe wat oor ’n tydperk van 12 maande strek, onder die vaandel van die Your SA, Our Home, Our Efforts-veldtog bekend te stel. Die veldtog fokus op gemeenskapswaardes en omgewingsaspekte.
‘n Opwindende nuwe konsep, die gratis gemeenskapstydskrif, My Week, is verder uitgebrei. Teen die jaareinde het 28 streekuitgawes die lig gesien, met ’n totale oplaag van 661 000.
Media24 se fokus het verskuif van nuwe vrystellings na die uitbou van die titels wat in die vorige twee jaar bekend gestel is, en die staking van titels wat skynbaar nie op medium termyn genoeg aantrekkingskrag sal behou nie. Titels wat geloods is, sluit in Sarie Kos, Huisgenoot Pols/You Pulse, Best Life en die verkryging van ’n 50%-belang in Destiny, Real en SA Jagter/Hunter.
Nadat sekere van ons tydskriftitels deur die ABC opgeskort is weens sirkulasie-insidente, is al ons sirkulasiesyfers geoudit en is alle tydskrifte vanaf
1 Januarie 2008 deur die ABC heringestel. Media24 maak goeie vordering met ’n projek om sirkulasiestelsels vir alle publikasies te verbeter. Dit behoort voor die einde van hierdie kalenderjaar in werking te wees. |