Media24 Beherend (Eiendoms) Beperk
 
 
kennisgewing van die algemene jaarvergadering  
     
 
 
 
 

Kennis word hiermee gegee dat die tweede algemene jaarvergadering van Media24 Beherend (Eiendoms) Beperk (“die maatskappy” of “Media24 Beherend”) op Donderdag, 18 September 2008 om 10:00 in Ouditorium 2, Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum, Convention Square, Laer Langstraat 1, Kaapstad gehou sal word.

Die volgende gewone besluite sal by die algemene jaarvergadering oorweeg word en, indien goedgekeur, met of sonder wysiging aangeneem word:

GEWONE BESLUIT 1  
1. Die finansiële state van die maatskappy en die groep vir die 12 maande tot 31 Maart 2008 en die verslae van die direkteure en die ouditeur sal vir oorweging en aanvaarding voorgelê word.
 
GEWONE BESLUIT 2  
2. Die verklaring van ’n dividend van R165 miljoen in die uitgereikte aandelekapitaal van die maatskappy.
 
GEWONE BESLUIT 3  
3. Heraanstelling van die firma PricewaterhouseCoopers Ing. as ouditeur van die maatskappy vir die tydperk wat begin op die datum van die algemene jaarvergadering tot ná afl oop van die volgende algemene jaarvergadering van die maatskappy.
 
GEWONE BESLUIT 4  
4. Bevestiging van die tussentydse aanstelling van J P Bekker as direkteur van die maatskappy. Sy verkorte curriculum vitae verskyn op hier van hierdie verslag.
 
GEWONE BESLUIT 5  
5. Om die gemagtigde maar onuitgereikte aandelekapitaal van die maatskappy onder die direkteure se beheer te plaas en tot ná afl oop van die volgende algemene jaarvergadering van die maatskappy onvoorwaardelike algemene magtiging aan die direkteure te verleen om na goeddunke maar onderhewig aan die bepalings van artikel 221 van die Maatskappywet, Nr 61 van 1973, soos gewysig (“die Wet”), en die maatskappy se statute) die onuitgereikte aandele van die maatskappy toe te ken en uit te reik aan sodanige persone en volgens sodanige voorwaardes en bepalings as wat die direkteure as gepas beskou.
 
GEWONE BESLUIT 6  
6. Mnr T Vosloo, me M G Landman, prof H R Botman en dr W G James, stel hulself op ’n vrywillige basis beskikbaar vir uittrede, maar is as direkteure herkiesbaar.
 

Die volgende spesiale besluite sal oorweeg word en, indien goedgekeur, met of sonder wysiging aanvaar word:

SPESIALE BESLUIT 1  

Magtiging om aandele terug te koop

Dat die direkteure van die maatskappy by wyse van ’n hernubare algemene magtiging hiermee gemagtig word en is om die aankoop deur die maatskappy van sy eie aandele goed te keur, of die aankoop van aandele in die maatskappy deur ’n filiaal van die maatskappy goed te keur, met dien verstande dat:

(i)  hierdie algemene magtiging geld tot die maatskappy se volgende algemene jaarvergadering of vir vyftien (15) maande vanaf die datum waarop hierdie besluit aangeneem is, watter termyn ook al die kortste is; en
(ii)  sodanige terugkoop aan die Wet en die maatskappy se statute onderworpe is.
 

Die rede vir en uitwerking van spesiale besluit 1 is om aan die direkteure van die maatskappy ’n algemene magtiging te verleen om die maatskappy se terugkoop van sy eie aandele goed te keur en om ’n filiaal van die maatskappy toe te laat om aandele in die maatskappy te koop.

 
SPESIALE BESLUIT 2  

Wysiging van die statute van die maatskappy

Daar word voorgestel dat die onderstaande as paragraaf 16A tot die statute van die maatskappy toegevoeg word:

"16A (1) Op elke algemene jaarvergadering van die maatskappy moet ’n getal so na as moontlik aan een-derde van die nie-uitvoerende direkteure wat dan daardie ampte beklee, uittree. Die direkteure wat elke jaar moet uittree, is dié wat die langste hul amp beklee het sedert hul laaste verkiesing, maar tussen persone wat op dieselfde dag direkteure geword het, word, tensy hulle onderling anders besluit, deur die lot beslis.
(2)    'n Uittredende direkteur is herkiesbaar en hoef nie vir daardie doel genomineer te word nie, maar word geag behoorlik genomineer te wees vir die vakature wat deur sy uittrede ontstaan. Indien herkies, word hy geag nie sy amp neer te gelê het nie.
(3)    Niemand buiten ’n uittredende direkteur is, tensy deur die direksie aanbeveel, bevoeg om as direkteur op enige algemene vergadering verkies te word nie, tensy hy deur minstens vyf (5) lede as direkteur genomineer word, welke nominasie skriftelik moet wees en minstens veertien (14) dae voor die vergadering waarop die direkteur verkies sou word, tesame met toestemming van die genomineerde, tensy laasgenoemde ook die voorsteller is.”
 

Die rede vir en uitwerking van spesiale besluit 2 is om voorsiening te maak dat ’n getal so na as moontlik aan een-derde van die nie-uitvoerende direkteure op ’n jaarlikse basis uittree ten einde weer herverkies te kan word.

GEWONE BESLUIT 7  
7. Alle direkteure van die maatskappy word hiermee gemagtig om alle stappe te doen, alle handelinge te verrig en alle dokumente te onderteken wat nodig is om die gewone en spesiale besluite wat by hierdie algemene jaarvergadering aangeneem word, in werking te stel.
 
8. ANDER SAKE
  Sodanige ander sake word gedoen as wat by ’n algemene jaarvergadering gedoen mag word.
 
ALGEMEEN

Onderworpe aan die volmag wat deur Welkom Yizani Beleggings Beperk (“Welkom Yizani”) aan sy lede verleen word om by die algemene jaarvergadering van die maatskappy in sy plek te stem, is die gewone aandeelhouers van die maatskappy daarop geregtig om die algemene jaarvergadering by te woon, daarop te praat en daarop te stem (en elke gewone aandeel in die maatskappy gee sy houer een stem).

Stemming by die algemene jaarvergadering sal by wyse van stembriewe geskied en nie met die opsteek van hande nie. Elke gewone aandeelhouer wat teenwoordig is of deur ’n gevolmagtigde verteenwoordig word, sal geregtig wees op die getal stemme wat gelyk is aan die getal gewone aandele wat sodanige gewone aandeelhouer of sy gevolmagtigdes hou.

Volmagvorms moet ingedien word by of gepos word aan die oordragsekretaris van die maatskappy, Link Market Services South Africa (Eiendoms) Beperk, om hulle teen nie later nie as agt-en-veertig (48) uur (Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae word nie in berekening gebring nie) voor die algemene jaarvergadering te bereik by Diagonalstraat 11, Johannesburg 2001 of Posbus 4844, Johannesburg 2000.

Ooreenkomstig die bepalings van artikel 15.1 van die statute van die maatskappy, is elke lid van Welkom Yizani onherroeplik aangestel as ’n gevolmagtigde vir Welkom Yizani en daarop geregtig om by die algemene jaarvergadering van die maatskappy een stem uit te bring vir elke aandeel wat die betrokke lid in Welkom Yizani hou. Welkom Yizani het ’n volmagvorm ingevul ten opsigte van elke lid wat op sodanige wyse kragtens voormelde artikel geregtig is om by die algemene jaarvergadering te stem.

Op las van die direksie


G M Coetzee Maatskappysekretaris
 
Kaapstad
25 Augustus 2008 
 
      Terug na bo