Prestasie-oorsig

Bedryfsoorsig

Koerante

Die koerante-afdeling het ’n strawwe jaar gehad. Ondanks kostebeheermaatreëls en goeie groei in direkte advertensies, het sirkulasie- en nasionale advertensie-inkomste tekorte getoon. Die Afrikaanse dagblaaie is die swaarste getref.

Ons het goeie vordering gemaak met pogings om die besigheid van ’n produksie-georiënteerde koerantuitgewer te omskep in ’n multimedia-maatskappy wat op klante fokus. Altesaam 280 joernaliste het ’n geakkrediteerde multimedia opleidingsprogram voltooi en die ‘digitaal eerste’-filosofie het momentum gekry in die

hele organisasie. Ons het ook tablet-, mobiele en webtoepassings vir ons Afrikaanse dagblaaie Beeld, Die Burger en Volksblad ontwikkel en geloods. NetLocal, ons digitale platform vir plaaslike koerante, het sy voetspoor uitgebrei en huisves nou 28 plaaslike publikasies, ondersteun 70 gedrukte publikasies op die web en mobiele media, en toon sterk groei in gebruikersgetalle.

Ander hoogtepunte sluit in:

  • Uitbreiding van ons plaaslike koerante: Eden Express is in George en Mosselbaai geloods, en Sedibeng Ster in die Vaal-streek.
  • Nadat dit slegs in Gauteng en KwaZulu-Natal versprei is, is City Press se glans-leefstyltydskrif iMag landwyd bekend gestel.
  • Daily Sun het sy leserstal van 5,2m tot 5,7m (+9%) verhoog, Sunday Sun se leserstal het van 2,4m tot 2,6m (+8%) gestyg, en City Press s’n van 1,6m tot 1,8m (+16%).
  • Daily Sun se Facebook-aanhangers het tot 90 000 gestyg, die mobi-werf lok nou ongeveer 11 000 unieke blaaiers per dag en die waardetoevoegings-SMS-diens het meer as 2m boodskappe vir die jaar aangeteken.
  • Soccer Laduuuuuma! se sirkulasie het die afgelope jaar indrukwekkende groei getoon, en verkope het die 400 000 kerf in Augustus 2012 verbygesteek. Dit is nou een van die titels wat die beste verkoop in die land.

Tydskrifte

Ondanks ’n daling in beide advertensiebesteding en sirkulasiesyfers, het hierdie afdeling sy markaandeel onder die top vyf uitgewers behou en winsgewende resultate behaal.

Die afdeling het gedurende die jaar verskeie kostebesnoeiingsmaatreëls aangegaan om marges en sy winsbydrae in strawwe handelstoestande te beskerm. Hierdie maatreëls sluit in die herbelyning van strukture, horisontale integrasie van gedeelde dienste soos finansies en reproduksie, en ongelukkig die onvermydelike sluiting van ses titels, met 109 afleggings.

Grazia, die eerste mode- en nuusweekblad in Suid-Afrika, is geloods en die ondersteuning van adverteerders het gegroei. Ons investering in nuwe en ontluikende marksegmente begin vrugte afwerp; Kuier het in Desember 2012 vir die eerste keer die sirkulasiekerf van 100 000 verbygesteek.


Digitaal

24.com bly die grootste internetuitgewer in Suid-Afrika. Dit het gebruikers op sy netwerk van webwerwe met meer as 15% teenoor die vorige jaar uitgebrei tot gemiddeld 453 000 daaglikse gebruikers, en gemiddeld meer as 4m bladbesoeke per dag op die web en mobiele platforms. 24.com publiseer Suid-Afrika se voorste mobiele toepassings, met 250 000 daaglikse aktiewe gebruikers op al die groot mobiele bedryfstelsels. News24 word deurgaans as die top gratis nuustoepassing aangewys op Apple, Android, Blackberry en Windows se platforms.

Sterk vordering is ook gemaak met mobiele media.

Careers24.com, 24.com se platform vir aanlyn geklassifiseerde werwingsadvertensies, is die afgelope jaar radikaal verbeter. Die gaping tussen Careers24 en die huidige markleier is aansienlik vernou.

McGregor BFA is ’n voorste verskaffer van finansiële navorsingsdata. Hy het die afgelope twee jaar sy eindgebruiker-platform opgeknap en sy markte en internasionale datadekking uitgebrei. Sy nuwe Expert-platform het vertikale werwe ontsluit. Dit span internasionale belangstelling in Afrika-markte in om ’n oplossing vir ontluikende markfondse in die ontwikkelde wêreld te verskaf.

Die Touchlab-eenheid is verantwoordelik om innovering in die
digitale sfeer aan te moedig. Projekte van die afgelope jaar het ingesluit:
  • Toepassings vir die Afrikaanse daaglikse koerante Die Burger, Beeld en Volksblad wat ’n lojale groep lesers gelok het. Die opvoeding van ons digitale gehoor oor die strategieverskuiwing na ’n betaalde digitale model is goed op dreef.
  • Die go! Travel South Africa-toepassing wat in die Suid-Afrikaanse winkel vir Apple-toepassings onder die top-reistoepassings gereken word.
  • SARIE se e-handelswinkel, www.sarie.com was tweede in die Suid-Afrikaanse e-handels­toekennings vir die beste koopervaring en het ’n silwer Bookmarks-prys ontvang.

Landbou.com wil van nut wees vir boere en landbouverskaffers in Suider-Afrika. Die fokus is op geklassifiseerde advertensiedienste, digitale landbounuts­dienste en die seepgladde aflewering hiervan op mobiele en rekenaar­platforms. Ons mikpunt is om die voorste geklassifiseerde landbou-advertensiediens in die streek te lewer en ’n onmisbare vennoot in die boerdery te word. Aangesien ons gebruikers meestal in landelike gebiede woon, word alle nuwe dienste vir gebruik op selfone ontwerp.


Paarl Media

Terwyl tradisionele drukmedia in die vorm van koerante en tydskrifte krimp, brei Paarl Media sy drukkapasiteit verder uit en fokus op die onderwysbedryf en kleinhandelsektor in Afrika suid van die Sahara. Addisionele produktiwiteits- en doeltreffend­heidsprogramme is die afgelope jaar ingestel om die volhoubaarheid van kernbedrywighede te verseker.

Paarl Media se omgewings­programme sal verder verbeter word met biomassa-stoomketels wat elektriese/diesel-stoomketels vervang. Die nuwe publikasie­gravure-drukker loop op volle kapasiteit. The Natal Witness Printing and Publishing Company Eiendoms Beperk is ten volle opgeneem in Paarl Coldset en ’n groot kapitaalprogram is op pad om hierdie aanleg in KwaZulu-Natal verder te kommersialiseer.


Boekuitgewerye

Die uitgewers in Media24 Boeke het heelwat van hul ontwikkelings­besteding op die uitbreiding van hul e-boekuitgewerslys, die bou van e-handelswebwerwe en ’n toepassing vir lede van Leserskring/Leisure Books toegespits. In die digitale arena:

  • was Via Afrika Publishers die eerste plaaslike uitgewer wat sy volledige lys Kurrikulum- en Assesseringsbeleids (KABV)-tekste (wat aan die KABV-verklaring voldoen) as verrykte, interaktiewe e-boeke beskikbaar gehad het, en
  • het NB-Uitgewers ooreenkomste met internasionale verspreiders en Leserskring/Leisure Books gesluit om hul digitale produkte te versprei en te verkoop.

Verdere hoogtepunte in die oorsigjaar het ingesluit:

  • NB-Uitgewers het sy posisie as die voorste verskaffer van plaaslike algemene boeke versterk. Sy outeurs het 33 letterkundepryse ingepalm (plaaslik en internasionaal).
  • Leserskring/Leisure Books het Pay@-betaalpunte by verskeie kleinhandelaars in bedryf gestel om betaling vir lede te vergemaklik en skuld­invordering en dienslewering te verbeter.

Jonathan Ball Publishers (JBP) (aparte afdeling in Media24) het, net soos die res van die verbruikers­boekbedryf, ’n onstuimige jaar agter die rug. Toenemende e-boekverkope in die plaaslike mark vanuit die buiteland, waarop geen belasting op toegevoegde waarde betaalbaar is nie, veroorsaak probleme vir beide Suid-Afrikaanse boekhandelaars en agente vir Britse en Amerikaanse uitgewers in Suid-Afrika, aangesien die mark besig is om te taan. JBP skakel met die betrokke owerhede om hierdie situasie reg te stel. JBP se eie e-boekverkope groei eksponensieel.


On the Dot

On the Dot het ongeveer 73m tydskrifte en ongeveer 210m koerante gedurende die afgelope jaar versprei. Met inagneming van die realiteit van dalende sirkulasiesyfers, het hy op die

optimalisering van sy verspreidingsnetwerk gekonsentreer om die verspreidingskoste van koerante en tydskrifte te verminder.

Die afdeling het ook suskesvol verpakkings- en vervullingsoplossings vir ’n groot Suid-Afrikaanse klerekleinhandelaar geloods. Dit is die eerste groot sukses in die sake-eenheid se strategie om hom te herposisioneer as ’n diensverskaffer wat in e-handelsverpakking en -vervulling spesialiseer. Skoolhandboeke ter waarde van R280m is ook gestoor en betyds afgelewer.

Aan die digitale vervullingskant het On the Dot ’n kontrak met ’n internasionale e-leser-vervaardiger gesluit as die eksklusiewe verskaffer van plaaslike e-boeke. Die sake-eenheid se lys van e-boeke toon ook goeie groei.

On the Dot het nou 291 titels van 48 uitgewers op sy www.mysubs.co.za - platform beskikbaar. Dit sluit 64 titels van internasionale uitgewers in.