Finansiële prestasie







Vyfjaar-oorsig

  2009  
R’m  
2010  
R’m  
2011  
R’m  
2012  
R’m  
2013  
R’m
  
Inkomstestaat            
Omset   7 020   6 730   7 156   7 970   8 119  
Handelswins*   573   438   370   567   574  
Vrye kontantvloei   118   369   114   551   451  
Staat van finansiële posisie            
Totale bates   5 320   5 287   5 294   5 574   5 617  
Totale ekwiteit   942   737   990   988   2 123  
Totale laste   4 378   4 550   4 304   4 586   3 494  

* Handelswins voor ander winste/(verliese) 



Nie-finansiële prestasie

Media24 publiseer ongeveer 60 tydskrifte en 90 koeranttitels in Suid-Afrika, insluitend Daily Sun, Afrika se dagblad wat die wydste gelees word. Amper 13m mense lees ons tydskrifte elke maand, en meer as 12m mense lees ons koerante elke week.


Ons mense

Op 31 Maart 2013 het die groep 7 068 (2012: 7 464) heeltydse werknemers gehad, van wie 43% vroue was. Sowat R44m is gedurende die afgelope jaar in opleiding belê, insluitend R7,2m vir beurse aan personeel wat deeltyds by verskillende universiteite studeer. Die Media24 Akademie het meer as 20 nagraadse joernalistiekstudente befonds en gementor. Hulle sal ná suksesvolle voltooiing van hul graadkursusse verdere opleiding in die vorm van ’n eenjaar-internskap by Media24 ondergaan.

Media24 het gedurende die oorsigtydperk verskeie pryse ingepalm. Twee van ons Afrikaanse dagblaaie, Die Burger en Volksblad, het die Koerantvereniging van Suid-Afrika se gesogte Frewin- en McCall-trofeë, onderskeidelik vir ontwerp, tipografie en gehalte van drukwerk gewen. City Press was ’n gesamentlike wenner van die Joel Mervis-prys vir uitnemende advertensies, drukwerk en produksie, uitleg en tipografie. City Press se assistentredakteur, Adriaan Basson, het die gesogte CNN-prys vir nuusjoernalis van die jaar gewen. Ons plaaslike koerante het verskeie pryse by 2012 se MDDA-Sanlam-toekenningsgeleentheid (waar uitmuntendheid in plaaslike media vereer word) ontvang, waaronder TygerBurger vir die beste plaaslike koerant.

Die tydskrifte-afdeling het ook talle pryse tot sy trofeekabinet bygevoeg met ’n aantal titels wat in die kollig was by die jaarlikse Pica-toekennings-geleentheid. SARIE is as die tydskrif van die jaar aangewys en Women’s Health se redakteur, Kate Wilson, as redakteur van die jaar. SARIE het ook die 360˚ Brand Innovation-prys ontvang.

In die boeke-afdeling het Via Afrika Publishers weer die Suid-Afrikaanse Boekhandelaars­vereniging se Sefika-prys vir die opvoedkundige uitgewer van die jaar ontvang, terwyl Van Schaik-Uitgewers as die beste akademiese uitgewer aangewys is.


Omgewing

Media24 het voortgegaan met groen inisiatiewe om sy koolstofvoetspoor van 90 777 ton CO2e gedurende die afgelope jaar onder beheer te hou. Voortgesette inisiatiewe vir groter energiedoeltreffendheid sluit in:

  • installering van beweging-geaktiveerde ligte
  • opknapping van lugversorgers om elektrisiteitsverbruik te verminder
  • konsolidering van ons kliëntediens-kontaksentrums, en
  • outomatiese hibernasie van persoonlike rekenaars wanneer gebruikers hul werkstasies verlaat.

Afvalbestuursinisiatiewe sluit in:

  • instel van drukkers om bladsye outomaties weerskante te druk en papierverbruik te verminder
  • doeltreffender herwinning van kantoorafval, en
  • herwinning van tolueen by Paarl Media se gravure-drukpers.

Maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling

Media24 het gedurende die afgelope jaar sy swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-status op vlak 4 behou, met 125% erkenning vir SEB-besteding. Die groep het volpunte vir eienaarskap, maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling en ondernemingsontwikkeling behaal. Swart eienaarskap in die maatskappy, sowel as die eienaarskap gehou deur swart vroue, is verbeter. Media24 se telling vir vaardigheidsontwikkeling het die afgelope jaar meer as verdriedubbel.