OORSIG VAN WERKSAAMHEDE - Internet

INTERNET

Wêreldwye internetgebruik het die afgelope jaar onverpoos toegeneem. Altesaam is 1,7 miljard mense wêreldwyd nou aanlyn – 18% meer as die vorige jaar. Die mees beduidende groei het in Middel- en Oos-Europa, Latyns-Amerika, China en Rusland voorgekom.

 

Europa

Hier is ons bedrywig in die internetsegmente van transaksieplatforms, gemeenskappe, kommunikasieplatforms, vermaaklikheidsdienste en mobiele waardetoevoegingsdienste. Inkomste word hoofsaaklik verkry deur e-handelstransaksies, geklassifiseerde advertensies, betaaldienste, prysvergelykingsdienste, advertensies, fooigebaseerde waardetoevoegingsdienste en speletjies.

Die Europese portefeulje bevat vyf hoofondernemings. Mail.ru is in Rusland bedrywig, die Allegro-groep en Gadu-Gadu in Pole, die Ricardo-groep in Switserland en Nimbuzz in Nederland. Die bedrywighede is oor 25 lande versprei.

Die Allegro-groep bestaan uit platforms vir e-handelvasteprys- transaksies asook veilings, geklassifiseerde advertensies (bv voertuie, eiendom, betrekkings en reis), prysvergelykende en sosiale inkopiewebwerwe en ’n betaalplatform. Verskeie dienste van hierdie aard word bedryf in Pole, Rusland, die Tsjeggiese Republiek, Slowakye, Hongarye, Bulgarye, Roemenië, die Oekraïne, Letland, Litaue, Estland, Belarus, Kasakstan en Serwië. Die groep het tydens die verslagtydperk bevredigend gegroei. Bladbesoeke het toegeneem tot 78,4 miljard en 156,8 miljoen items is verkoop met ’n gesamentlike bruto handelswaarde van PLN8mjd (R20,8mjd), wat omset van PLN664,5m (R1,7mjd) gegenereer het.

Gedurende die afgelope jaar het Mail.ru stewige resultate in ’n moeilike mark behaal en sterker as sy mededingers gegroei. Ná die Astrum-transaksie is Mail.ru nou die grootste aanlyn-, kommunikasie- en vermaaklikheidsmaatskappy in Rusland. In 2009 het Mail.ru sy gebruikersbasis uitgebrei en teen Maart 2010 123,7 miljoen besoekers aan sy portaal gehad, met 17 miljoen bladbesigtigings per maand. Die kern-e-posplatform het steeds stewige groei getoon, met die registrasie van 308 200 nuwe rekeninge per dag, terwyl die sosialenetwerk-komponent van Mail.ru daagliks 173 600 nuwe gebruikers bygekry het. Astrum is die grootste speletjiesontwikkelaar en -platformoperateur in Rusland.

Ondanks ’n bedrukte advertensiemark het Gadu-Gadu voortgegaan om sy inkomstestrome te diversifiseer. Altesaam 10,3 miljoen mense gebruik dié platform maandeliks vir kitsboodskappe (IM) en bedrywighede het toegeneem sedert die bekendstelling van die nuwe IM-weergawe.

Ricardo neem steeds die voortou in sy kernmark en het nuwe vertikale dienste in Switserland bekend gestel. Dit sluit in Ricardo Shops [’n onderneming-verbruiker-handelsplatform (B2C)] en Tradus.ch (’n platform vir algemene geklassifiseerde advertensies).

Nimbuzz, waarvan MIH nou 43,6% besit, is ’n tegnologiemaatskappy in Nederland gesetel wat fokus op mobiele kitsboodskappe en stem-oor-internet-protokol (VoIP). Gedurende die verslagtydperk het dié maatskappy sy gebruikerstal tot 17,1 miljoen uitgebrei en sy eerste monetiseringsproduk NimbuzzOut (vergelykbaar met SkypeOut) bekend gestel.

Suidoos-Asië

MIH se belange in Indië en die res van Suidoos-Asië groei organies, asook deur verkrygings.

In Indië het ibibo, ons gesamentlike onderneming met Tencent, hom gevestig as die leier in sosiale transaksies. Dit is deur Business Week erken as een van die top 50 nuwe tegnologie-ondernemings wêreldwyd en het die jaar afgesluit as een van die top 30 webwerwe in die land. ibibo is nou ook die toonaangewende platform vir sosiale speletjies in Indië en het Tradus.in en goibibo – albei e-handelsinisiatiewe – van stapel gestuur.

Beleggings is in die Filippyne aangegaan, waar MIH 51% van sulit.com.ph – ’n plaaslike webwerf en aanlyndiens vir geklassifiseerde advertensies – bekom het. In Maleisië het ons ’n 34%-aandeelhouding in die aanlynhandelsplatform lelong.com.my verkry.

Ondanks politieke onrus in Thailand het Sanook!, die toonaangewende plaaslike portaal in Thailand, sy e-handelsonderneming uitgebrei en twee vertikale vertakkings vir voertuie en eiendom van stapel gestuur.

MIH het sy aandeelhouding in Buzz City tot 36% verhoog. Buzz City, wat in Singapoer gesetel is, is ’n ontwikkelaar van selfoondienste en sluit ’n wêreldwye mobiele advertensienetwerk in.