VOORSITTER EN BESTURENDE DIREKTEUR SE VERSLAG

OORSIG

Opsommend het Naspers omsetgroei van 5% tot R28mjd vir die afgelope boekjaar aangeteken. Operasionele wins het met 10% gestyg tot R5,4mjd, terwyl kernwesensverdienste met 22% gegroei het tot R5,3mjd. Ons finansiële prestasie word in die finansiële oorsig op hier van hierdie jaarverslag ontleed.

Die internetbedryf het sterk gegroei in ontluikende markte. Ons betaaltelevisie-ondernemings het goed vertoon, terwyl die tegnologie-onderneming weer operasionele wins begin wys het. Wêreldwyd het drukmediamaatskappye – ook ons eie – egter swaar getrek in die resessie.

Die Naspers-groep het die afgelope jaar steeds uitgebrei. Die meeste ontluikende markte waarin ons bedrywig is, het die wêreldwye ekonomiese afswaai redelik goed die hoof gebied, vergeleke met ontwikkelde ekonomieë.

Die internetsegment, wat hoofsaaklik uit Allegro in Middel-Europa, Tencent in China en Mail.ru in Rusland bestaan, het deurgaans gegroei, met ’n styging van 24% in omset.

Ons betaaltelevisie-ondernemings was weer eens bestand teen die ekonomiese toestande en toon omsetgroei van 12%, met effens laer bedryfsmarges omdat ons belê het om die intekenaarbasis uit te brei. Irdeto, die TV-tegnologie-onderneming, het ook ekonomies die wind van voor gekry, maar het koste besnoei.

Die drukmedia-onderneming het egter ’n daling van 5% in omset ondervind, weens laer advertensie-inkomste.

INTERNET

In geheel gesien het die internetsegment se omset met 24% tot R9,2mjd toegeneem. Operasionele wins styg tot R2,4mjd.

In China het Tencent beter presteer as verwag, met omsetgroei van 49%. Geregistreerde gelyktydige spitstydgebruikers van die kitsboodskap-platform staan nou op 105 miljoen. Tencent se bydrae tot kernwesensverdienste styg met 76% tot R2,1mjd.

Die sterk rand het ’n beduidende uitwerking op die ander internetondernemings gehad, waar omset nominaal effens hoër en wins laer was. Gebaseer op ’n stabiele wisselkoers, reken ons omset en operasionele wins sou met 19% gestyg het.

In Pole toon die Allegro-platform steeds stewige groei. Gemeet aan die plaaslike geldeenheid het bruto handelswaarde wat op die platform verhandel is met 20% gegroei, wat omset met 24% laat styg het. Nuwe dienste is bekend gestel.

In Indië is ibibo, ons gesamentlike onderneming met Tencent, besig om sosiale speletjies- en e-handelsplatforms te ontwikkel.

In Rusland het Mail.ru sy basis uitgebrei tot 81 miljoen aktiewe e-posgebruikers. Hierdie onderneming het R70m tot ons kernwesensverdienste bygedra. Dit is wel deur verhoogde belasting op dividendbetalings en die sterk rand beïnvloed. Mail.ru het die verkryging van Astrum, die aanlynspeletjiesplatform-operateur in Rusland, afgehandel.

In Latyns-Amerika is BuscaPé in September 2009 by die groep gevoeg. Hierdie eenheid is besig om sy vergelykende inkopie-onderneming uit te brei en sy basis te verbreed deur die ontplooiing van nuwe dienste soos elektroniese betaling, geklassifiseerde advertensies en geaffilieerde advertensienetwerke.

In Suid-Afrika bly 24.com ’n toonaangewende plaaslike internetuitgewer, met ’n toename van 34% in sy gebruikerbasis.

BETAALTELEVISIE

In geheel het die betaaltelevisiesegment se omset met 12% toegeneem, danksy intekenaargroei van 634 000 netto huishoudings. Na ’n bevredigende feesseisoen het intekenaargroei wel in die laaste kwartaal van die boekjaar afgeplat. Bedryfsmarges was effens laer weens die koste verbonde aan die uitbou van die intekenaarbasis, asook hoër inhoudskoste as gevolg van toenemende mededinging en die vervaardiging van meer plaaslike inhoud.

In Suid-Afrika het die basis met 450 000 tot 2,85 miljoen huishoudings aangegroei. Die diens bied nou nege verskillende boekette en drie hoëdefinisiekanale. Met ’n sterk programinhoud wat sokker, algemene vermaak en flieks insluit, het die Compact- en Family-boekette in die middel-prysklas klante gelok. Advertensie-inkomste was effens hoër. In die komende jaar sal nog mededingers hierdie mark betree.

In die ander 47 lande in die res van Afrika suid van die Sahara het ons klem op plaaslike inhoud en bykomende sport 184 000 addisionele intekenare gelok, wat die basis vergroot het tot 1,1 miljoen huishoudings. Die Compact- en Family-boekette staan op 447 000 intekenare. Hausa- en Yorubataalkanale is in Nigerië bygevoeg.

SuperSport is nou een van die hoofbefondsers van plaaslike sportligas regoor die Afrika-vasteland, wat hoër inhoudskoste vir ons beteken. As Afrika-sport egter wêreldwyd mededingend wil wees, sal iemand dit egter moet befonds.

Mobiele-TV-werksaamhede is in Ghana, Kenia, Namibië en Nigerië van stapel gestuur, terwyl ons in Suid-Afrika nog wag op ’n lisensie.

IRDETO

Irdeto het sowat 15,8 miljoen voorwaardelike-toegang-eenhede in die verslagtydperk gelewer – ’n toename van 5%. Omset in ander afdelings was plat, weens die wêreldwye verlangsaming. Konsolidasie van verskeie tegnologie-ondernemings binne Irdeto het bedryfskoste verlaag, en dié segment het verlede jaar se operasionele verlies omgeswaai in ’n wins van R47m.

DRUKMEDIA

Die drukmediawerksaamhede in Suid-Afrika het ’n daling van 5% in omset ondervind. Sirkulasie van koerante en tydskrifte is op merkwaardige wyse gehandhaaf, maar advertensies het swaar getrek. In ’n resessie lees mense meer, maar adverteerders bestee minder. Bedryfskoste is verminder en kapitaalbesteding is in toom gehou. Ons het daarin geslaag om markaandeel effens uit te brei.

In Brasilië het die tydskrifuitgewer Abril ook ’n uitdagende jaar beleef, veral wat advertensies betref. Dit is grotendeels deur oordeelkundige kostebeheer teengewerk. Abril se bydrae tot ons kernwesensverdienste het R318m beloop (2009: R414m), wat gedeeltelik beïnvloed is deur die sterk rand en ’n hoër belastingaanslag gedurende die tydperk.

DIVIDEND

Die direksie beveel aan dat die jaarlikse dividend met 14% verhoog word tot 235 sent (voorheen 207 sent) per N- gewone aandeel, en 47 sent (voorheen 41 sent) per ongenoteerde A- gewone aandeel. Indien die aandeelhouers dit goedkeur by die algemene jaarvergadering op Vrydag 27 Augustus 2010, sal dividende betaalbaar aan aandeelhouers op Donderdag 23 September 2010 in die boeke aangeteken word en op Maandag 27 September 2010 uitbetaal word. Die laaste datum van verhandeling cum dividend sal Donderdag 16 September 2010 wees. Aandele sal dus vanaf Vrydag
17 September 2010 ex dividend verhandel.