DIREKSIE

Ton Vosloo

Ton Vosloo is in 1984 as besturende direkteur van Naspers Beperk aangestel en was van 1992 tot 1997 uitvoerende voorsitter. Hy was van 1956 tot 1983 as joernalis werksaam en van 1977 tot 1983 redakteur van Beeld. Hy is ’n direkteur van Media24 en MultiChoice Suid-Afrika Beherend, en voorsitter van MIH B.V., MIH Mauritius Limited en MIH Beherend, en onafhanklike, nie-uitvoerende voorsitter van die direksie van Naspers, ’n pos wat hy sedert 1997 beklee. Hy is ’n voormalige voorsitter van Sanlam, M-Net en die WWF (SA) en ook ’n direkteur van die Kaapse Filharmoniese Orkes. In 1970 het Harvard-universiteit die Nieman Fellowship aan Ton toegeken. Hy het drie eredoktorsgrade ontvang.

 

Rachel Jafta

Rachel Jafta, wat die grade BEcon, BEconHons, MEcon en PhD verwerf het, is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het in 2003 as ’n direkteur by die Naspers-groep aangesluit en is in 2007 as ’n direkteur van Media24 aangestel. Sy is lid van die Suid- Afrikaanse Ekonomievereniging, en ’n direkteur van Econex. Sy is voorsitter van die Kaapstad Karnavaltrust en ’n direksielid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. Sy het die konsep van die Rachel’s Angels-bemagtigingsprojek ontwikkel – ’n Media24-inisiatief wat in die Wes-Kaap in samewerking met die Universiteit Stellenbosch bedryf word. Sy is ’n lid van Naspers en Media24 se oudit- en risikobestuurskomitees. Sy is in April 2008 as die voorsitter van Media24 se oudit- en risikobestuurskomitee aangestel.

 

Koos Bekker

Koos Bekker het die span gelei wat M-Net in 1985 gestig het en was daarna tot 1997 uitvoerende hoof van die MIH-groep. Hy was ook ’n stigtersdirekteur van MTN. Hy is ’n direkteur van Media24, MIH B.V., MIH (Mauritius) Limited, MIH Beherend, MultiChoice Suid-Afrika Beherend en ander maatskappye binne die breër groep. Hy dien ook op die plaaslike reëlingskomitee vir die 2010-Fifa-wêreldbekertoernooi en die raad van die Universiteit Stellenbosch. Hy is sedert 1997 uitvoerende hoof van Naspers.

 

Jakes Gerwel

Jakes Gerwel het in 1999 as ’n direkteur by die Naspers-groep aangesluit. Hy was voorheen direkteur-generaal in die kantoor van oud-president Nelson Mandela, sekretaris van die kabinet en rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is kanselier van Rhodesuniversiteit en voorsitter van Brimstone Investment Corporation, Media24 en Welkom Yizani. Hy dien in die dagbestuur en die mensehulpbronne- en nominasiekomitees van Media24 en Naspers.

 

Fred Phaswana

Fred Phaswana het die grade BAHons, MA en BComHons verwerf. Hy het in 2003 as ’n direkteur by die Naspers-groep aangesluit. Hy is voorsitter van Standard Bank Suid-Afrika Beperk en ’n direkteur van Anglo American Suid-Afrika. Hy is ook voorsitter van die SA Instituut vir Internasionale Aangeleenthede.

 

Debra Meyer

Debra Meyer is vanaf 25 November 2009 as direkteur aangestel. Sy is tans professor in biochemie aan die Universiteit van Pretoria en het ’n PhD in biochemie en molekulêre biologie aan die Kalifornia (Davis)-universiteit verwerf. Sy publiseer in wetenskaplike tydskrifte en is ’n vryskutjoernalis vir verskeie koerante en tydskrifte. Sy is ’n gepubliseerde digter, het verskeie toekennings in haar kundigheidsveld ontvang en is in 2007 deur Rapport en City Press erken as een van 10 kandidate vir die Toonaangewende Vroue (Prestigious Women)- toekenning. Sy is aktief betrokke by maatskaplike kwessies, veral met betrekking tot MIV/vigs, en dien as trustee of direksielid van verskeie gemeenskapsliggame.

 

Steve Pacak

Steve Pacak het sy loopbaan by die Naspers-groep in 1988 as groep- finansiële bestuurder by M-Net begin en verskeie uitvoerende poste in die MIH-groep beklee. Hy is ’n direkteur van Media24, MIH B.V., MIH (Mauritius) Limited, MIH Beherend, MultiChoice Suid-Afrika Beherend en ander maatskappye in die breër Naspers-groep. Steve is in 1998 as ’n uitvoerende direkteur van Naspers aangestel.