INLEIDING
Die direksie bedryf die sake van die groep met integriteit deur toepaslike korporatiewe bestuurstoesigbeleid en -praktyke in elke maatskappy in die groep toe te pas.
Naspers is ’n multinasionale mediagroep met bedrywighede in verskeie lande in Afrika, Suid-Amerika, Europa, China, Indië, Suidoos-Asië en die VSA. Sy primêre notering is op die JSE Beperk (JSE). Die maatskappy is dus onderhewig aan die noteringsvereistes van die JSE, die riglyne wat vervat is in die King-verslag oor korporatiewe bestuurstoesig vir Suid-Afrika van 2002 (King II), asook wetgewing van toepassing op openbare genoteerde maatskappye in Suid-Afrika. Die implikasies van die nuwe Suid- Afrikaanse Maatskappywet, Nr 71 van 2008 (op 8 April 2008 bekragtig), asook die King III-kode en -verslag oor korporatiewe bestuurstoesig in Suid-Afrika word tans ontleed. Naspers het ook ’n sekondêre notering van sy Amerikaanse deposito-aandele (ADA’s) op die Londense aandelebeurs (LSE).
Voldoening aan beide die JSE- en toepaslike LSE-noteringsvereistes word deur die oudit- en risikobestuurskomitees van die direksie gemonitor. Die direksie se oudit-, risikobestuurs-, mensehulpbronne- en nominasiekomitees speel ’n sleutelrol om goeie korporatiewe bestuurstoesig te verseker. Die groep gebruik onafhanklike eksterne adviseurs om plaaslik en internasionaal regulatoriese ontwikkelings te monitor sodat bestuursaanbevelings oor sake rakende korporatiewe bestuurstoesig aan die Naspers-direksie kan voorlê.
Die direksie volg ’n proses om die rol en doeltreffendheid van die direksie en die voorsitter, asook die doeltreffendheid van die onderskeie
direksiekomitees, op ’n jaarlikse grondslag te evalueer. Beoordeling van die oudit- en risikobestuurskomitee fokus onder meer op die kernbevoegdhede van die komitee. Filiale wat hul eie oudit- en risikobestuurskomitees het, volg dieselfde praktyk.
Verklikkerfasiliteite bestaan by die meeste van die groot filiale. Dit stel werknemers in staat om onetiese gedrag in die werkplek anoniem aan te meld.
STAND VAN NUWE MAATSKAPPYWET EN KING III
Die impak van die nuwe Suid-Afrikaanse Maatskappywet en King III was ’n fokus van die afgelope jaar. Ter voldoening aan die nuwe maatskappywet, sal aandeelhouers by die komende algemene jaarvergadering gevra word om ’n nuwe akte van inkorporasie goed te keur vir inwerkingtreding op die (nog nie aangekondigde) datum waarop die nuwe wet van krag word.
Die direksie, sy subkomitees en die direksies en subkomitees van die filiale MIH, MultiChoice en Media24 het goed gevorder met die beoordeling van die beginsels en praktyke soos vervat in King III. Na die jaareinde het Naspers se direksie hersiene handveste van die direksie en subkomitees goedgekeur, wat in die nuwe boekjaar in werking sal tree. Die verantwoordelikhede van die oudit- en risikobestuurskomitee is geskei en ’n nuwe risikobestuurskomitee is gestig. Soortgelyke veranderings is deur die direksies van MIH, MultiChoice en Media24 goedgekeur. ’n Plan om aan aspekte van King III aandag te gee, is goedgekeur en die inwerkingstelling daarvan is goed op dreef. Waar dit op die groep van toepassing is, sal ons bestuurstoesigbeleid en -praktyke waar nodig aangepas word. Indien bevind word dat sekere beginsels en praktyke nie op die groep van toepassing is nie, sal die rede bekend gemaak word waarom dit nie toegepas of daar nie aan King III se aanbevelings voldoen word nie.
Naspers sal ’n geïntegreerde verslag vir die boekjaar tot 31 Maart 2011 saamstel en op daardie tydstip oor die toepassing van King III verslag doen.
VOLDOENINGSVERKLARING
Die noteringsvereistes van die JSE vereis dat JSE-genoteerde maatskappye verslag doen oor die mate waarin hulle voldoen aan die beginsels wat in King II vervat is. Volgens die noteringsvereistes van die JSE is verslagdoening met betrekking tot King III van toepassing op finansiële jaareindes vanaf 1 Maart 2010. Naspers sal in sy geïntegreerde verslag vir die jaar geëindig 31 Maart 2011 oor die toepassing van King III verslag doen. Die direksie is na sy beste wete oortuig dat die maatskappy gedurende die hele verslagtydperk die beginsels van King II toegepas het.
DIE DIREKSIE
Samestelling
Die besonderhede van direkteure op 31 Maart 2010
word op hier van hierdie jaarverslag
uiteengesit.
Naspers het ’n unitêre direksie, wat ’n toesighoudende asook ’n beherende funksie vervul. Die direksie het ’n handves wat ’n duidelike verdeling van verantwoordelikhede aandui. Die meeste direksielede is nie-uitvoerende direkteure, wat onafhanklik van bestuur staan om te verseker dat niemand onbeperkte besluitnemingsmag en -gesag het nie. Die rolle van die voorsitter en besturende direkteur is geskei om ’n duidelik omskrewe verdeling van verantwoordelikhede te verseker.
Mnr Pacak is op 1 April 2009 weer as finansiële direkteur in die direksie aangestel na sabbatsverlof van drie maande. Op 25 November 2009 is prof D Meyer as ’n nuwe direksielid aangestel. Mnr Boetie van Zyl is die leidende direkteur in alle sake wat nie deur die onafhanklike, nie-uitvoerende voorsitter hanteer word nie.
Op 31 Maart 2010 het die direksie uit 11 onafhanklike, nie-uitvoerende direkteure, een nie-uitvoerende direkteur en twee uitvoerende direkteure bestaan, soos omskryf in die noteringsvereistes van die JSE. Ses direkteure (43%) kom uit voorheen benadeelde groepe, en drie direkteure (21%) is vroue. Hierdie syfers is bogemiddeld vir JSE-genoteerde maatskappye.
Die voorsitter
Die voorsitter is ’n onafhanklike, nie-uitvoerende
direkteur. Hy gee leiding aan die direksie in die geheel
en verseker dat die direksie doeltreffend en gefokus is,
en as ’n eenheid werk. Hy tree as fasiliteerder by
direksievergaderings
op om ’n vloei van menings te
verseker en poog om, in belang van goeie
bestuurstoesig, besprekings tot optimale resultate te lei.
By geleentheid verteenwoordig hy ook die direksie in
eksterne kommunikasie, in oorleg met die besturende
direkteur en die finansiële direkteur.
Die besturende direkteur
Die besturende direkteur doen verslag aan die direksie
en is verantwoordelik vir die daaglikse bedryf van die
groep en die toepassing van beleid en strategieë wat
deur die direksie goedgekeur is. Uitvoerende hoofde van
die onderskeie sakeondernemings help hom met hierdie
taak. Gesag wat deur die direksie aan bestuur toegesê is,
word deur die besturende direkteur in ooreenstemming
met goedgekeurde gesagsvlakke gedelegeer.
Aanstellings in die direksie
Die direksie het ’n beleid aanvaar oor prosedures vir
die aanstelling en oriëntering van direkteure.
Die nominasiekomitee
beoordeel van tyd tot tyd die vaardighede wat deur nie-uitvoerende direkteure in die
direksie verteenwoordig
word en besluit of hierdie
vaardighede aan die maatskappy se behoeftes voldoen.
Jaarlikse selfbeoordelings deur die direksie en sy subkomitees help ook hiermee. Direkteure word genooi om te help met die identifisering van potensiële kandidate. Die lede van die nominasiekomitee, wat almal nie-uitvoerend is, stel geskikte kandidate vir oorweging deur die direksie voor. ’n Evaluering van die geskiktheid en gepastheid van elke geïdentifiseerde kandidaat word gedoen.
Uittrede en herkiesing van direkteure
Alle nie-uitvoerende direkteure is elke drie jaar
onderhewig
aan uittrede en herkiesing deur aandeelhouers.
Voorts is alle nie-uitvoerende direkteure in die
geval van ’n tussentydse aanstelling onderhewig aan
verkiesing deur aandeelhouers, by die eerste gepaste
geleentheid. Die name van nie-uitvoerende direkteure
wat vir verkiesing of herkiesing voorgelê word, word
vergesel deur verkorte biografiese besonderhede (sien
bladsye 66 tot 69 van hierdie jaarverslag) om
aandeelhouers
in staat te stel om ’n ingeligte besluit oor
hul verkiesing te neem. Die heraanstelling van
nie-uitvoerende direkteure geskied nie outomaties nie.
Oriëntering en ontwikkeling
’n Induksieprogram word aangebied vir nuwe lede van
die direksie en van sleutelkomitees, wat spesifiek by die
behoeftes van die aangestelde individue aangepas word.
Die program behels bedryf- en maatskappyspesifieke
oriëntering, soos vergaderings met senior bestuur om ’n
begrip van bedrywighede te kry. Direksielede word ook
blootgestel aan die hoofmarkte waarin die groep
bedrywig is. Die maatskappysekretaris help die voorsitter
met die induksie en oriëntering van direkteure, en reël
spesifieke opleiding, indien nodig.
Die maatskappy gaan voort met die ontwikkeling van direkteure om kundigheid uit te brei en ’n begrip te kry van die ondernemings en die hoofmarkte waarby die groep betrokke is.
Botsings van belange
Potensiële botsings van belange word op toepaslike
wyse bestuur om te verseker dat kandidaatdirekteure en
bestaande direkteure geen belangebotsings tussen hul
verpligtinge teenoor die maatskappy en hul persoonlike
belange het nie. Enige belang in kontrakte met die
maatskappy moet amptelik openbaar gemaak en
gedokumenteer word. Direkteure moet ook by ’n beleid
hou ten opsigte van die verhandeling van sekuriteite
van die maatskappy.
Onafhanklike advies
Individuele direkteure mag, na oorleg met die voorsitter
of die besturende direkteur, op die maatskappy se koste
onafhanklike professionele advies inwin oor enige saak
wat verband hou met die uitvoering van hul pligte as
direkteure.
Die direksie het ’n handves aanvaar waarin sy verantwoordelikhede uiteengesit word. Buiten ander verpligtinge moet die direksie:
- die maatskappy se missie bepaal, strategiese leiding aan die maatskappy verskaf en verantwoordelikheid dra vir die aanvaarding van strategiese planne en die toepassing van waardes ter ondersteuning daarvan
- die jaarlikse sakeplan en begroting wat deur bestuur opgestel is, evalueer en goedkeur
- volle en effektiewe beheer oor die maatskappy behou, en bestuur monitor met betrekking tot die uitvoering van die goedgekeurde jaarlikse begroting en sakeplan
- die besturende direkteur of uitvoerende hoof aanstel, wat aan die direksie verslag doen en toesien dat opvolging beplan word
- die maatskappy se finansiële state, tussentydse en voorlopige verslae goedkeur, en verantwoordelikheid dra vir die integriteit en aanbieding daarvan
- die maatskappy en die groep se lewensvatbaarheid as ’n lopende saak evalueer
- die maatskappy se kommunikasiebeleid vasstel
- die keuring, oriëntering en evaluering van direkteure bepaal
- toesien dat die maatskappy toepaslike prosedures vir risikobestuur, interne beheer en regulatoriese nakoming volg en toereikend met aandeelhouers en ander belanghebbendes kommunikeer
- direksie-subkomitees met duidelike opdragte en verantwoordelikhede stig
- die gesagstruktuur vir spesifieke sake bepaal, en die vereiste vlakke van gesag aan die direksie se subkomitees en bestuur delegeer
- nie-finansiële aspekte rakende die maatskappy se sake monitor
- die betaling van dividende aan aandeelhouers oorweeg en, indien toepaslik, verklaar, en
- die prestasie en doeltreffendheid van die direksie en sy subkomitees gereeld evalueer.
Direksievergaderings en bywoning
Die direksie vergader gereeld, minstens vier maal per
jaar, asook wanneer spesifieke omstandighede dit
vereis. Die uitvoerende komitee skenk aandag aan
dringende sake wat nie tot die volgende gereëlde
vergadering kan wag nie. Die direksie het die afgelope
finansiële jaar vyf keer vergader. Die onafhanklike,
nie-uitvoerende direkteure vergader minstens een keer
per jaar sonder die besturende direkteur, finansiële direkteur en voorsitter, om die prestasie van hierdie
persone te bespreek.
Die maatskappysekretaris tree as sekretaris vir die direksie en sy subkomitees op en woon alle vergaderings by. Besonderhede van bywoning van die vergaderings verskyn op hier van hierdie jaarverslag.
